Local news

Bruid van die jaar 2025 – Amoré de Kock

Veels geluk aan Vaalweekblad se Bruid van die jaar vir 2025. Ons het gaan nader kennis maak met Amoré de Kock.

VANDERBIJLPARK – Amoré en JP de Kock is verlede jaar op 15 Maart getroud. Die troue was ‘n regte plaastroue in ‘n skuur in Deneysville. Die twee se verhaal lees soos ‘n storieboek.

Hulle was albei in Hoërskool Transvalia waar hul vir twee jaar uitgegaan het. Na skool het hul paaie vir ‘n wyle uitmekaar gegaan.

Amoré het in Potchefstroom gaan swot en JP is terug Bloemfontein toe. Op ‘n kol het hy haar begin raad vra oor ‘n eks-meisie van hom.

“Ek wou nie raad gee nie,” lag sy. Die twee het net weer begin gesels en kort voor lank besef, ou liefde roes nooit. In 2023 het JP haar verras deur haar by hul peetkind se amptelike fotosessie te vra om te trou.

“Daar word die hele fotosessie toe een vir ons verlowing. Hy het lekker agter my rug gekonkel,” lag sy. Hul troudag het amper ‘n hartseerdag geword, toe haar ouma Johanna Joubert ‘n beroerte gehad het.

“Sy was reeds aangetrek vir die troue. Gelukkig was dit net ‘n ligte beroerte, maar hulle moes haar in die hospitaal hou.” Haar ouma was baie ontsteld omdat sy nie die troue kon bywoon nie. Sy het 583 dae help aftel na die groot dag toe.

Die pasgetroudes het egter ‘n plan gemaak en met hul trouklere aan vir Ouma Johanna en Oupa Koos in die hospitaal gaan verras. Vir hul wittebrood is die egpaar Kaap toe.

Nie alleen nie, hul het hul baba Jack Russel, Vellies saamgeneem. Dié was toe ses maande oud en behoorlik ‘n handvol op die vakansie. Vellies het intussen ‘n sussie, Lyla bygekry en die twee word lekker bederf.

Amoré glimlag steeds omdat sy Vaalweekblad se Bruid van die jaar 2025 gewen het. “My ma het gekarring dat ek moet inskryf,” onthou sy.

“Toe ek hoor ek het gewen het ek haar eerste gebel en toe my man. Ek het glad nie verwag dat ek sou wen nie,” straal sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button