Eind goed, alles goed na val uit boom
Die uiltjies kon maklik misgekyk word, maar hulle was nie en vandag loer hul al grootoog rond. Lees meer...
HENLEY ON KLIP – Daar was groot konsternasie op 12 Maart nadat ‘n tuinier piepklein uiltjies op die grond opgetel het. Hy het dadelik vir Stan Wallace laat weet wat die uiltjies na die Johannesburg Wildlife Vet in Kyalami geneem het.

Die volgende dag het die veearts hom laat weet dat hulle die baba uiltjies weer by hul ouers moet kry. Stan sê hulle het ‘n hondehuisie omskep in ‘n uilhuis en dit in ‘n boom gesit naby die palmboom waaruit die nes geval het.
Daardie aand het personeel van die Johannesburg Wildlife Vet die uiltjies huis toe gebring en is hulle in die uilhuis geplaas. Na ‘n halfuur van asem ophou en duim vashou, het die twee groter uile teruggekom en in die uilhuis ingegaan.
Kort daarna was daar groot bedrywigheid by die uilhuis soos wat die ouers in en uit gevlieg het op soek na kos vir die kleintjies. Van toe af het hulle self die uiltjies grootgemaak.
Saterdag het Stan die kans gekry om weer die uiltjies te sien. Hulle het grootoog vir hom geloer vanuit hul uilhuis en hy het van die kans gebruik gemaak om foto’s te neem.
