Local newsNewsNews

Jacques Steenkamp – joernalis beroof en ontvoer

Dit is nie aldag dat ‘n joernalis self die TV-nuus as ‘n misdaadslagoffer haal nie, maar dit is presies wat Vrydag met Jacques Steenkamp, voormalige misdaadverslaggewer van Vaalweekblad en tans senior ondersoekende verslaggewer van SABC Radionuus, gebeur het.

Dit is nie aldag dat ‘n joernalis self die TV-nuus as ‘n misdaadslagoffer haal nie, maar dit is presies wat Vrydag met Jacques Steenkamp, voormalige misdaadverslaggewer van Vaalweekblad en tans senior ondersoekende verslaggewer van SABC Radionuus, gebeur het.

Steenkamp was besig om onderhoude vir RSG oor vermeende prostitusie en kindersmokkelaars in Krugersdorp saam te stel, toe ‘n groep Nigeriërs hom in ‘n huis oorval en aangehou het. Hy is twee ure lank aangehou en eers laat gaan nadat hy sy bankkaart en pinnommer aan hulle moes gee en hulle R5 000 uit sy rekening onttrek het. Die geld is glo boonop deur die misdadigers met drie beweerde korrupte polisiebeamptes gedeel. Steenkamp het ‘n saak van roof en ontvoering by die polisie geopen.

Twee verdagtes van onderskeidelik 26 en 36 jaar oud is Saterdagaand tydens ‘n klopjag in verband met die voorval vasgetrek. Steenkamp het die polisie vergesel en die verdagtes positief uitgewys tydens ‘n uitkenningsparade. Hulle word tans in Krugersdorp aangehou. Albei verdagtes is Nigeriese burgers. Hulle het Maandag reeds vlugtig in die hof verskyn en sal na verwagting op 11 April om borgtog aansoek doen. Die staat beplan egter om dit teen te staan. Steenkamp sê die aard van sy werk het hom gehelp om tydens sy aanhouding kalm te bly, al het hy geglo hulle gaan hom vermoor.

“Ek het die heeltyd aan my vrou en twee seuns gedink en gehoop en -bid hulle sal okay wees sonder my. Die twee ure het baie langer gevoel, maar ek kon daarin slaag om veilig uit die huis te kom,” sê Steenkamp.
Hy sê hy is dankbaar vir die vinnige optrede van die Valke en die speurtak van die Krugersdorpse polisie.
“Ek bedank graag vir adjudant-offisiere Conrad Robertson en Ifraim Marethwa, die Krugersdorp Trio Task Team en brigadiers Noxolo Kweza en Mulaudzi vir hul flink optrede,” sê Steenkamp. Hy sê die verdere polisie-ondersoek sal nou fokus op die bedrywighede van drie beweerde korrupte polisielede wat glo by die voorval betrokke was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button