Man vas ná video van beweerde dieremishandeling
Die man is in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal aan die lig gekom het waarin hy skynbaar ’n hondjie lewend probeer begrawe en herhaaldelik slaan.
VANDERBIJLPARK – ’n Man van die Vaaldriehoek is Maandag 9 November by sy werkplek in hegtenis geneem nadat videomateriaal waarin ’n Yorkshireterriër-hondjie glo ernstig mishandel word, aan die lig gekom het.
Volgens ’n verklaring van Sekuriteit Sonder Grense het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) beeldmateriaal ontvang waarin die verdagte die hondjie na bewering mishandel en probeer om die dier lewend in ’n vlak graf te begrawe.
Die veiligheidsmaatskappy beweer dat die man die hondjie uit die gat gehaal het toe dit tekens van lewe getoon het, waarna hy die dier herhaaldelik geslaan het.
Die DBV het Sekuriteit Sonder Grense om dringende hulp genader om die verdagte op te spoor.

Lede van die veiligheidsmaatskappy, die DBV en die Vanderbijlpark-polisie het daarna na die man se werkplek gegaan, waar hy in hegtenis geneem is.
Volgens die verklaring is ’n strafregtelike klag van dieremishandeling teen hom aanhangig gemaak. Sy identiteit word in dié stadium weerhou hangende sy eerste hofverskyning.
Sekuriteit Sonder Grense het die DBV bedank vir sy werk om diere te beskerm, asook vir die vertroue wat die organisasie in die veiligheidspan gestel het om met die optrede te help.
Die maatskappy het ook sy waardering teenoor die polisie uitgespreek vir hul spoedige optrede en samewerking.
Volgens die veiligheidsmaatskappy word alle misdaad ernstig opgeneem, maar misdrywe teen diere, kinders en bejaardes raak sy lede besonder diep.
Die verklaring meld nie of die hondjie die beweerde mishandeling oorleef het of veeartsenykundige behandeling ontvang het nie.
