Springbokke se saamstaan projek verlig honger
Winter tyd is Rugby tyd. So was dit nog gewees in die 80s.
In die somer is daar krieket gespeel en aan atletiek deelgeneem en in die winter het die seuns rugby gespeel en die meisies netbal of hokkie. Dit het natuurlik met die jare baie verander. Tot onlangs toe kon daar amper regdeur die jaar rugby gekyk word. En skielik is dit weg… sommer so is al wat ‘n rugby liefhebber, speler en skeidsregter nie net kantlyn toe geskuif nie, maar heeltemal uit die stadions verban!

Dalk was dit die eerste paar weke nie so erg nie. Daar was darem vele groot wedstryde wat mens weer kon kyk. Om nie te praat van die drie meesterstukke waar die Springbokke seëvierend die Web Elllis trofee gelig het nie. Maar, nou se dae voel dit so al asof mens eerder die knop in jou keel moet wegsluk as om te juig as jy die ou wedstryde sien. Oor dit winter is en daar nêrens eens ‘n bulletjiewedstryd aan die gang is nie. Ja, ja… ons weet van Covid-19 en die pandemie en ons eie gesondheid en ander sin. Ons sê mos maar net… ‘n Mens mis die rugby. Baie.
Die spelers en afrigters mis ook rugby, maar hulle sit ook nou nie op hul louere en wag vir die nuwe seisoen om eendag weer te begin nie. Kyk mens na die manne (en vroue) se sosiale media blaaie, dan sien jy hulle sorg dat hul fiks bly. Dan is daar die legendes, soos Bryan Habana en vele ander wat daagliks help kos versprei en hulp bied waar hul kan.

Verder het die 2019 wêreldbeker kampioene besluit om saam met Gift of the Givers en Food Forward SA ‘n reuse veldtog van stapel te stuur. Dit werk amper soos die ou dae se kerkbasaars toe jy moes lootjies koop om moontlik die dubbellaag sjokoladde koek gebak deur die vrouevereniging se voorste bakster te kon wen.
Net dit wat jy in die Springbok lotery kan wen sal jou nie vet maak nie, maar elke prys het groot waarde vir rugby geesdriftiges. Elkeen van die 2019 Springbokgroep het iets waaraan hul baie waarde heg geskenk. Die volledige lys is nog nie bekend gemaak nie. Die organiseerders sit net elke dag so ‘n bietjie by. Die gelukkige wenners sal op 8 Julie getrek word. Elke inskrywing kos R32,12. Die geld wat gegenereer word, sal gebruik word om honger te verlig dwarsoor Suid-Afrika.
Van die pryse wat reeds aangekondig is, sluit in Malcolm Marx se trui wat hy in die Springbokke se eerste wêreldbeker wedstryd in 2019 gedra het, asook sy tokse, afrigter Rassie Erasmus se ‘lucky” wit hemp en Pieter-Steph Du Toit se sweetpak. Kaptein Siya Kolisi het ook een van sy wêreldbeker wedstryd truie geskenk. Dan is daar die pryse wat vir die wenner ervarings van ‘n leeftyd gaan besorg, soos om Rassie Erasmus as gasspreker te hê om fondse in te samel vir ‘n liefdadigheid van eie keuse of om saam met die Sprinfbokke in die bus te ry as hulle ‘n toets in Suid-Afrika speel.
Gaan kliek gerus op https://bit.ly/3cINdMy vir meer inligting en om jou kaartjies te koop.

