Berig soos gepubliseer in Vaalweekblad se papieruitgawe van 8 Julie 2020
Retha Fitchat
VEREENIGING. – Die Covid-19 virus en gepaardgaande inperking wat nou reeds langer as drie maande duur, is vir meeste Suid-Afrikaners uiters ongerieflik. Die aanpassing bly moeilik en vir sommige raak die emosionele en fisiese uitdagings te groot.
Vaalweekblad is bewus van minstens drie inwoners van die Vaaldriehoek en omstreke wat selfmoord gepleeg het as gevolg van die probleme wat die inperking meegebring het. Die gesinne is nog te rou om amptelik met die koerant te praat, maar in private boodskappe het van die naasbestaandes vertel van die verskriklike smart en skuldgevoelens waarmee hulle agterbly omdat hulle die tekens nie betyds raakgesien het nie.
Verskeie inwoners het ook aan Vaalweekblad se blitsopname op Facebook deelgeneem en erken dat hulle gereeld aan selfmoord dink – veral dié wat weens die inperking hul werk, huis en voertuie verloor het, en nie meer in staat is om hul rekeninge te betaal of genoeg kos te koop nie.
“Normale ondersteuningstelsels is onbeskikbaar. Kerke is toe. Mense wat sukkel, kan nie maklik hulp kry nie en mag nie eers na familielede gaan om ondersteuning te vra nie. Dit is ‘n onbekende tyd vir ons beraders en sielkundiges. Ek is verras dat hier nog nie meer gesinsmoorde was nie,” sê ‘n plaaslike sielkundige anoniem. Sy gee tans virtuele berading aan verskeie mense wat nie meer kans sien om te lewe nie, selfs aan ‘n predikant wat magteloos voel omdat hy sy sukkelende gemeentelede volgens hom, nie meer doeltreffend kan help nie.
‘n Vaalweekbladleser, mev. LV, skryf in ‘n hartroerende boodskap op Vaalweekblad Facebook dat sy bekommerd is oor haar man se gemoedstoestand en vrees dat hy sy lewe gaan neem.
“Dinge raak vir my man ook nou te veel. Hy ly aan erge depressie. Hy werk net een of twee dae per week en daarby is sy vergoeding met 7.5% gesny. Ek slaap bykans nooit nie sodat ek hom kan dophou. Dit is nie ‘n lekker ding nie en mense wat nie saam met so ‘n persoon lewe nie, besef nie hoe hard en hartseer dit is nie. Bid asseblief vir ons.”
Sielkundiges raai gesinslede van mense wat duidelik in ‘n diep depressie is, aan om so gou as moontlik mediese en beradingshulp te kry.
Vir een gesin is dit egter te laat. Vaalweekblad se susterskoerant, Carletonville Herald, het verlede week berig oor een van die opspraakwekkendste “Covid-19 selfmoorde” tot dusver. Ds. Henk Calitz (40), sedert 2011 leraar van die Hervormde Kerk in Carletonville, het hom in sy kerksaal opgehang.
Volgens sy suster, Maritza van den Berg, was hy nie ‘n depressielyer nie. Sy sê niemand het besef hoe moedeloos haar broer gevoel het oor sy lidmate se probleme, wat deur die inperking vererger is nie. Net soos in die Vaaldriehoek, is Carletonville se ekonomie en werksgeleenthede die afgelope jare verwoes deur die sluiting van groot werkverskaffers en sakeondernemings. Die Covid-19 inperking het ‘n reeds benarde situasie verder laat versleg.
“Henk was ‘n familie- en gemeenskapsmens wat hom die swaarkry van ander erg aangetrek het. Hy het veral ‘n sagte plek vir bejaardes gehad,” sê Maritza.
Volgens dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Nederduitch Hervormde Kerk van Afrika se kommunikasiekommissie, was ds. Calitz ‘n stabiele mens met baie deernis vir ander. Hy sê die gemeente is erg getraumatiseer en berading is vir gemeentelede gereël om hul geliefde leraar se dood te verwerk.
Ds. Calitz word oorleef deur sy vrou Martie, hul kinders en sy ma, Ria. Hy is verlede Dinsdag uit sy eie kerk begrawe.
Ds. Calitz was in April vanjaar in die nuus nadat hy ‘n brief oor sy ervaring by ‘n Covid-19-padblokkade op ‘n Facebook Kerkgroep geplaas het. Lees sy brief van destyds hier onder:

Ds Henk Calitz van Carletonville skryf op 27 April 2020 in die Christelike Facebookgroep: Ons Huis Kimberley:
Ek wil graag vandag hierdie met julle deel …
Dit was vir my n belewenis wat ek nog nooit ervaar het nie …
Gisteroggend ry ek Parys toe met permit en gesigmasker.
Ek vat ‘n Tannie huis toe, sodat sy kan bloed kry vir haar bloedkanker. Iets wat ek met liefde doen.
Terwyl ek terugry, word ek by die 3de padblokkade gestop.
Polisiemanne en -vroue. Die kaptein stap na my toe en vra my permit. Hy vra wat die rede was.
Ek vertel en hy sê vir my … What job do you really do? Ek probeer maar die standaard antwoord.
I am a MARUTI …
Hy vat my permit en ID-dokument en vra dat ek dadelik moet aftrek….
My moed is in my skoene en ek sien net hoe gaan ek vandag geboei êrens in n sel sit en n hele paar rand armer …
Hy roep al die polisiemanne en -vroue na my toe en vra my die volgende:
“MARUTI … WILL YOU PLEASE PRAY FOR US IF IT WON’T OFFEND YOU. WE REALLY NEED PRAYER FOR OURSELFS … OUR FELLOWS … AND OUR FAMILIES … PLEASE MARUTI …”
En daar staan ek … Tussen hulle … Doen ‘n gebed in my beste Engels. (Wat juffrou Susan Brits en meneer Deon le Roux my geleer het)
Ek sê “Amen.”
Toe kom elkeen van hulle na my toe. Skud my hand en sê: “Thank you … en MAY THE LORD BLESS YOU AND YOUR FAMILY … ”
Hulle spuit my hande met die nodige spuite ens. Stop ander voertuie sodat ek kan ry.
Ek het tot in Carletonville met ‘n knop in my keel gery. Trane wat vlak sit …
Mag ons ook in hierdie tyd besef wat hulle vir ons beteken en dat hulle ons gebede nodig het!
Groete en seën.
(VAALWEEKBLAD-PERSONEEL SE HARTE GAAN UIT NA DS. HENK SE FAMILIE. HY WAS DUIDELIK ‘N OMGEEMENS. DIE WêRELD IS BAIE ARMER SONDER HOM).
