‘Misdaadstatistiek kan misleidend wees’
"Die VF Plus verwelkom die feit dat misdaadstatistiek voortaan elke kwartaal bekend gemaak sal word. Die party vra al etlike jare dat dit so gedoen word en hierdie volgehoue druk het nou vrug opgelewer," sê Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Hy het uitgewys dat die kwartaallikse statistiek sal meehelp dat beter aandag gegee word aan die oorsake van misdaad wat daartoe sal bydra om beter pro-aktief te kan optree om misdaad te bekamp.
“Die publiek moet egter waak daarteen om nie mislei te word met die jongste misdaadstatistiek nie aangesien dit gesien moet word binne die konteks van die vlak vyf-inperking waar minimale beweging plaasgevind het. Die statistiek kan daarom, veral wat ʼn afname in persentasies aanbetref, misleidend wees.”
ʼn Voorbeeld is moord wat met 35,8% afgeneem het, seksuele misdrywe met 39,7% en poging tot moord wat met 23,8% afgeneem het. Gewone roof het die grootste afname getoon met 49,8%.
Voglens hom klink die syfers dalk goed, maar gewone roof vind meestal plaas op straat en mense is nie toegelaat om rond te beweeg nie. Gegewe die streng aard van die inperking op beweging, moes daar eintlik veel minder voorvalle van gewone roof gewees het.
“Dit is moeilik om ʼn vergelyking te tref tussen hierdie statistiek en dié van vorige jare weens die groot invloed van die inperking. Die werklikheid is dat daar steeds 3 466 moorde in hierdie tyd gepleeg is wat onaanvaarbaar hoog is,”beklemtoon Groenewald.
Wat plaasmoorde- en aanvalle aanbetref, word dit verwelkom dat die aantal aanvalle wat plaasgevind het, nou ook in die statistiek deurgegee word. Die VF Plus (dr. Pieter Groenewald) het met die vorige bekendmaking van misdaadstatistiek, versoek dat die aantal aanvalle voortaan bekend gemaak word.
“In hierdie tydperk van April tot Junie was daar nege moorde op plase, maar wat kommer wek is die feit dat daar tydens plaasaanvalle 14 voorvalle van ernstige aanranding was, 3 van verkragting, 12 van poging tot moord en 45 rooftogte by huishoudings op plase.
“Dié statistiek gee nou ʼn meer volledige prentjie van die omvang van misdaad op plase. Deur voorheen net die moordsyfer te gee, is ʼn wanindruk geskep van die ware omvang en erns van dié soort misdaad. Daar kan nou ook beter pro-aktief opgetree word om aanvalle te voorkom,” sê Groenewald.
Hy het ook uitgewys dat kontakmisdaad (tussen persone) is af met 37,4%. Hoewel dit goed klink, behels dit steeds 90 376 gevalle wat steeds baie hoog is.
“Die VF Plus se standpunt is steeds dat Suid-Afrika ʼn buitengewoon gewelddadige en gevaarlike land is, en dat die ANC-regering nie daarin slaag om gewone landsburgers te beskerm teen misdaad nie,”het Groenewald afgesluit.
