Solidariteit sal sportlui bystaan teen intimidasie oor BLM
Solidariteit het die week sy misnoeë uitgespreek oor die minister van sport, Nathi Mthethwa, se uitlatings in verband met agt Suid-Afrikaanse rugbyspelers wat geweier het om op hul knieë te sak ter ondersteuning van die BLM-beweging tydens ʼn klubwedstryd in Engeland.

Volgens Werner Human, adjunkbestuurshoof vir Regsake en Navorsing by Solidariteit, het die minister geen reg om spelers op grond van hul ondersteuning, al dan nie, van die BLM-beweging te intimideer of te viktimiseer nie. “Sulke gedrag lê geheel en al buite die bevoegdheid van die minister en maak inbreuk op hierdie spelers se vryheid van spraak, oortuigings en geloof. Trouens, ons praat nie eers van vryheid van uitdrukking nie – die minister poog hier om gedwonge uitdrukking van spraak te bewerkstellig. Dit kan nooit geduld word nie.”
Solidariteit het dit verder gestel dat hy sal intree namens enige van die agt spelers wat deur die minister geteiken is, sowel as enige ander sportlui wat in die beoefening van hul beroep benadeel word as gevolg van hul weiering om die BLM-beweging te ondersteun.
Hennie Bierman, hoof van die afdeling Beroepsgildes by Solidariteit, verduidelik: “Geen werkgewer kan enigiemand dwing om ʼn politieke beweging te ondersteun nie. Nog erger, geen politikus kan in die werkplek inmeng om ʼn werkgewer te dwing om dit te doen nie. Sportlui is alreeds in ʼn besondere kwesbare posisie ten opsigte van werksekerheid. Ons kan nie toelaat dat hul grondwetlike regte ook misken word nie.”
Human sluit af: “Vir die minister om teenkanting teen die BLM-beweging as rassisme te beskou, is absurd. Hierdie beweging en sy skadelike voorskrifte en oortuigings moet juis teengestaan word omdat dit negatiewe gevolge vir alle rasse inhou. Tog, hoewel ons nie bereid is om die knie vir BLM te buig nie, beteken nie dat ons weier om vir ander daardie ruimte te gun nie. Wat egter onaanvaarbaar is, is om spelers te viktimiseer oor hul eie keuse in dié verband.”

