Student steeds in ondraaglike pyn weens nierstene
Siekte kan Marlene se lewe eis as sy nie spoedig 'n operasie kry nie
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Skaars sewe weke gelede was Marlene Taylor nog ‘n sorgvrye onderwysstudent in haar finale jaar aan die Noordwes-Universiteit (Vaal). In plaas daarvan om saam met haar vriende te kan teruggaan universiteit toe, veg sy nou ‘n stryd om oorlewing.
Marlene se lewe het vroeg in Julie soos handomkeer verander toe sy met ernstige nierinfeksie en erge pyn dokter toe is. ‘n Paar dae later was dit so ondraaglik dat sy in Cormed-Hospitaal opgeneem moes word. Na verskeie toetse en sonars is vasgestel dat sy drie nierstene in haar regternier en twee in die linkernier het, wat veroorsaak dat haar niere nie kan dreineer nie en lewensgevaarlik swel. Abnormale kalsiumneerslae (kalsifisering) is ook in haar linkernier gevind, wat dringende behandeling vereis.
Marlene se spesialis het haar die slegte nuus gegee dat sy haar regternier sou verloor as ‘n noodprosedure nie dadelik gedoen word om ‘n stent in te plaas sodat die nier kan dreineer nie. Danksy die bydraes van vriende, familie en ‘n donateur, Johanita Kirsten, kon die noodoperasie van meer as R40 000 gedoen word en Marlene se hospitaalverblyf vir ‘n paar dae in Cormed betaal word.
“Daar was ongelukkig nie genoeg geld om die laserprosedure te laat doen om die nierstene te verwyder nie. Dié prosedure kos minstens R95 000 by ‘n private mediese instansie. Dit sluit nog nie hospitaalverblyf en medikasie in nie,” sê haar ma, mev. Martie Gibson. Die gesin het reeds voorskotte van derduisende rand gekry wat hulle moet terugbetaal, en kan eenvoudig nie by dié bedrag bykom nie.
Marlene is op 16 Julie uit Cormed ontslaan maar is dieselfde aand weer met ondraaglike pyn en baie bloeding in die hospitaal opgeneem. ‘n Paar dae later is sy na die Charlotte Maxeke-staatshospitaal in Johannesburg vervoer in die hoop dat die laserprosedure om haar nierstene te verwyder, op staatsonkoste daar gedoen kon word. Sy is egter weggewys omdat die hospitaal weens die Covid-19 pandemie nie die kapasiteit het om tans sulke operasies te doen nie.
Haar naam sal eers in November op ‘n waglys geplaas kan word en intussen moet die stents inbly. Dit is egter ‘n groot risiko omdat die stents nie veronderstel is om so lank in ‘n mens se liggaam te bly nie. Dit veroorsaak infeksie waarvoor antibiotika nie onbepaald voorgeskryf kan word nie. As die tyd aanbreek dat die stents uitgehaal moet word en die stene nog nie verwyder is nie, sal die niervloei weer blokkeer en kan Marlene albei niere verloor. As die niere weens die swelling bars, kan dit ‘n mens se lewe kos.
Intussen verduur Marlene intense, ononderbroke pyn, sy is voortdurend naar en moet meestal lê. Een van haar universiteitsmaats, Kim Schroll, het intussen begin om gereelde terugvoer oor haar toestand op Facebook te plaas, waar sy ook voorbidding vir Marlene vra. Volgens Kim benadeel die chroniese pyn Marlene se algehele fisiese en emosionele gesondheid. “Sodra sy rondbeweeg, is daar bloeding. Sy is ook op verskillende soorte medikasie wat mens nie vir ‘n lang tyd aaneen kan neem nie,” sê Kim.
Die uroloog wat Marlene behandel, het die afgelope week ‘n brief aan die staatshospitaal gestuur om te verduidelik dat dit van uiterste belang is dat Marlene so gou as moontlik ‘n operasie moet ondergaan omdat haar toestand vinnig versleg. Staatshospitale het egter steeds nie die vermoë om sulke dringende operasies uit te voer nie.
‘n Insamelingsveldtog is vir Marlene begin in die hoop dat die publiek bydraes sal maak sodat haar nierstene so gou as moontlik in ‘n privaathospitaal verwyder kan word.
Enigiemand wat graag wil bydra, kan ‘n inbetaling in dié rekening doen: Derrick Ian Gibson, Standard Bank, tjekrekening: 221140700, takkode: 051001, Verwysing: Marlene Medies.
(Voornemene donateurs wat hulle wil vergewis van Marlene se toestand, kan Marlene se ma, Martie, kontak by 060 356 6207).

