News

Sakeman en oud-raadslid Bertie Venter sterf na maandlange siekbed

"Hy het ‘n vol lewe gehad waarin sy afhanklikheid van God altyd die belangrikste was"

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – ‘n Jarelange inwoner van die Vaaldriehoek, mnr. Bertie Venter (70), is onlangs na ‘n maandlange siekbed oorlede. Hy het om 00:25 op 12 Oktober in die intensiewe sorgeenheid van die Unie-Hospitaal in Alberton gesterf. Buiten die stempel wat mnr. Venter deur die jare as sakeman in Vereeniging afgedruk het, was hy in die laat 1990’s ook baie betrokke by plaaslike regeringstrukture in die Vaaldriehoek.

Mnr. Venter is op 26 Januarie 1950 in Bloemfontein gebore en het hom later in die Vaaldriehoek gevestig, waar hy en sy vrou, Lenie, vir twee dekades die ondernemings Taurus Mansuitrusters en Lady Executive in Lesliestraat, Vereeniging bedryf het. Mnr. Venter het nie net as sakeman uitgeblink nie. Gedurende die 1990’s was hy ook ‘n lid van die Vereeniging/Kopanong Plaaslike Raad vir Wyk 1, sowel as lid van die Lekoa/Vaal Metroraad, wat gereeld lof ontvang het vir sy harde werk en die rustige en realistiese manier waarop hy gehelp het om plaaslike munisipale sake so goed as moontlik te help stuur tydens die oorgang na Suid-Afrika se nuwe bedeling.

Hy was die afgelope sewe jaar ‘n ywerige eiendomsagent by Marc James Estate in Vanderbijlpark.

“Ons pa het die lewe met waagmoed en lewenslus aangepak. Sy en my oorlede ma se huwelik was in liefde gewortel. Hy was ‘n besonderse lewensmaat, vader en oupa. Hy het ‘n vol lewe gehad waarin sy afhanklikheid van God altyd die belangrikste was,” sê sy dogter, Charné.

Mnr. Venter se vrou, Lenie, is reeds op 9 November 2000 na ‘n lang siekbed oorlede.“Dit is met swaar harte dat ons op 12 Oktober afskeid moes neem van ‘n vader, oupa, familielid en vriend wat diep spore in ons harte gelos het,” sê Charné.

Wyle mnr. Venter word buiten Charné (38), eienaar van The Chorus Project, en haar lewensmaat Rettie Hudson, ook oorleef deur sy dogter Monique Pienaar (44) en twee kleinkinders, Ninke en Llewellyn Pienaar. Die begrafnisdiens het reeds op 16 Oktober plaasgevind.

“Namens sy naasbestaandes wil ons graag dankie sê vir die talle oproepe, boodskappe en bystand, maar bowenal die gebede wat ons gedra het gedurende sy siekbed en afsterwe. Ons mis hom geweldig, maar berus, want ons weet hy jubel waar hy aan die voete van Jesus is,” sê Charné.

Foto’s onder: Wyle mnr. Bertie Venter, en regs, naasbestaandes tydens ‘n onlangse foto saam met mnr. Venter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button