News

Uniestraat se Kersliggies bring laaste hulde aan Odette

Publiek kan vanjaar vir oulaas na Odette se liggieskouspel in Uniestraat, Sasolburg, kom kyk

  Retha Fitchat

SASOLBURG. – Vir dekades lank lok Uniestraat 30 se vrolike Kersfeesliggies elke Desember honderde besoekers van heinde en ver. Vanjaar kan besoekers weer na die skouspel kom kyk, maar anders as ander jare gaan Odette Strydom (29), die dryfkrag agter die liggieprojek, nie daar wees nie. Odette is einde Oktober na ‘n kort siekbed aan hartversaking oorlede.

“Ons harte is nog stukkend, maar ons gaan die liggies vanjaar vir oulaas laat brand as ‘n huldeblyk aan Odette,” sê haar ma, mev. Zenda Strydom. Die Strydoms bied al dekades lank die jaarlikse liggieskouspel by Uniestraat 30 aan. Eers was dit Pa Koos en Ma Zenda wat dit jaarliks as ‘n gemeenskapsprojek gedoen het om geskenke vir minderbevoorregte gesinne en kleingoed in te samel.

Nadat Pa Koos een jaar van die dak afgeval het, het Odette, hul enigste dogter, besluit om die projek self te begin dryf. Sy was toe nog ‘n skooldogter van net 14 jaar oud. Vir die volgende 15 jaar het sy elke jaar nuwe planne beraam om die liggieprojek groter en mooier te maak. Vanjaar moes daar byvoorbeeld ‘n Kersfees-treintjie vir die kleingoed bykom. Sy het ook elke jaar ‘n optog saam met die brandweer en plaaslike GPF gereël om saam deur die strate te ry terwyl Kersvader geskenkies of lekkergoed uitdeel.

Vanjaar se planne was al goed op dreef toe Odette aan die begin van Oktober skielik siekerig begin voel het. Aaanvanklik was dit net verkouesimptome en ‘n hoesie waarvoor sy antibiotika gekry het, maar haar toestand het toenemend versleg. Sy is rondom 13 Oktober in die Vaalpark-hospitaal opgeneem, waar vasgestel is dat sy ‘n hartprobleem het. Sy is oorgeplaas na Vereeniging, waar sy in die waakeenheid deur ‘n hartspesialis behandel is. Sy het mooi begin aansterk en was reeds weer tuis toe sy onvewags op 31 Oktober in haar slaap aan hartversaking gesterf het.

“My man het op haar afgekom waar sy nog in haar bed gelê het. Hy is steeds gebroke. Hulle was baie na aan mekaar,” sê Zenda. Hoewel dit steeds ‘n baie pynlike tyd vir die gesin is, het hulle besluit om Odette se nagedagtenis te eer deur voort te gaan met vanjaar se liggieprojek. “Maar dit gaan die laaste een wees,” sê Zenda.

Odette, wat aan Laerskool A.J. Jacobs en Hoërskool Sasolburg skoolgegaan het, se siekte en afsterwe het as ‘n groot skok vir haar ouers, haar man Thys en 10-jarige seuntjie Shayne gekom. “Sy was van kleins af baie gesond. Sy was lief vir sport en het as kind aan netbal, hokkie en tennis deelgeneem en het ook graag geswem.

Gedurende die streng inperkingsvlakke was Odette die een wat energiek worsbroodjies en sop vir behoeftiges in ons omgewing aangedra het. Ons sou nooit kon raai dat sy ‘n hartprobleem gehad het nie,” sê haar ma.

Odette se gesin doen hierdie week die laaste afrondings aan vanjaar se liggieskouspel en nooi alle belangstellendes om van hierdie week af verby Uniestraat 30 te kom ry en daarna te kyk. Hulle is welkom om uit te klim en deur die tuin vol liggies te stap, waar daar nou ook ‘n gedenksteen vir Odette opgerig is.

Dié foto van wyle Odette Strydom (voor), haar man Thys, seun Shayne (10), en ouers Koos en Zenda Strydom, is tydens verlede jaar se liggieprojek geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button