Ondanks beproewing is ‘nuwe’ Chanell vol geesdrif vir die toekoms
Dis nou ses jaar nadat ongeluk uitblinker-atleet se lewe dramaties verander het
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Op 19 Desember vanjaar sal dit ses jaar wees sedert uitblinker-atleet Chanell Meijer (36) se lewe soos handomkeer verander het. Die oomblik toe sy in 2014 kop-eerste deur ‘n afleweringsvoertuig in Beethovenstraat getref is, is haar lewensdrome op ‘n onbeplande nuwe trajek gestuur.
‘n Lang en moeisame pad na herstel het voorgelê, maar medici staan vandag verstom oor die ongelooflike vordering wat sy reeds die afgelope ses jaar gemaak het.
Chanell, destyds ‘n gewilde onderwyseres van Hoërskool Sasolburg, ‘n hokkie- en tennisafrigter sowel as ‘n begaafde driekampatleet, was die dag van die ongeluk op pad huis toe ná ‘n strawwe 100 km oefenrit op haar sportfiets.
Selfs vir leke-omstanders op die toneel was dit duidelik dat die mooi blondekop wat bewusteloos in die middel van die pad gelê het, uiters ernstig beseer is. Chanell is in ‘n bedenklike toestand per noodhelikopter na ‘n hospitaal in Alberton vervoer, waar vasgestel is dat sy ernstige neurologiese skade opgedoen het. Haar oorlewingskanse was skraal. Medici het voorspel dat, indien sy sou bly leef, sy waarskynlik permanent verlam en breingestremd sou wees.
Hulle het nog nie geweet dié superfikse vegter gooi nie maklik tou op nie – en Chanell glo dit was ook gebede wat haar deurgedra het.
“Ek was in daardie tyd voor die Hemelpoorte maar God was heeltyd by my. Ek is so dankbaar vir almal se gebede en gebruik my ervaring as ‘n getuienis om vir almal te sê God kan die onmoontlike doen,” sê Chanell.
Na byna 90 dae het die “nuwe” Chanell uit haar koma ontwaak. Voorheen ‘n haastige raakvatter, moes sy nou met ‘n rolstoel oor die weg kom en leer wat die woord “geduld” beteken. Dit was nie maklik nie want sedert sy op die ouderdom van 18 met ‘n tennisbeurs aan ‘n universiteit in Lafayette, Amerika gaan studeer het en ‘n tennisafrigter in Connecticut was, was sy nog altyd uiters selfstandig.
“Die eerste ruk na die ongeluk en koma kon ek niks vir myself doen nie. Ek moes van vooraf soos ‘n baba leer eet, loop en praat,” onthou sy.
Maande se intensiewe opleiding in ‘n rehabilitasiesentrum het gevolg voordat Chanell na haar ouerhuis in Vanderbijlpark kon terugkeer. Hoewel baie dinge na die ongeluk verander het, het haar deursettingsvermoë, haar intellek, humorsin en liefde vir mense dieselfde gebly. In die eerste maande na haar ontslag is sy gereeld langs die sportveld gesien waar sy haar sportvriende aangemoedig het en uitgesien het na die dag dat sy self weer kon deelneem.
Danksy daaglikse toegewyde oefenprogramme kon sy mettertyd weer leer loop, swem, draf en fietsry – eers met ‘n driewielfiets omdat haar balans geaffekteer was, maar deesdae word sy weer gereeld op haar normale sportfiets by Old Vaaltonians gesien, hard aan die oefen.
Intussen het sy reeds weer aan kort marathons en parkrun begin deelneem. Sy swem twee keer per week 1½ km by Virgin Active, speel een keer per week tennis en woon twee maal per week oefensessies by Pulse by om haar spiere sterk en soepel te hou. Dit verbeter haar balans en help ook om die tremor wat sy in een arm oorgehou het, te verminder. Daarby werk sy ook deeltyds as kantoorassistent by ‘n plaaslike onderneming. Chanell het vrede daarmee dat alles nog stadig gaan, maar sy stel hoë doelwitte vir haarself en werk hard daaraan om dit te bereik. Een van haar groot drome is om weer eendag die Comrades te kan doen.
Sy wil ook graag weer haar eie motor bestuur en is vinnig besig om dié mylpaal te bereik. Sy het reeds weer haar leerlinglisensie afgelê en leer nou op Drivio Driving School se simulator om weer knap en met selfvertroue te kan bestuur. Personeel van die bestuurskool kan nie uitgepraat raak oor hoe toegewyd en aandagtig sy die lesse volg nie.
Chanell sê sy is baie dankbaar dat haar begripsvermoë en intellek nie deur die ongeluk aangetas is nie. Voor die ongeluk, terwyl sy oorsee was, het sy ‘n graad in rekeningkunde en finansies verwerf, en later ook ‘n nagraadse sertifikaat en honneursgraad in Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy beoog om dit mettertyd met ‘n meestersgraad in Opvoedkunde op te volg.
Intussen gryp sy elke dag met ‘n glimlag aan – propvol geesdrif oor wat die toekoms inhou.







