Familie dring aan om in oorledene se gehuurde kamer te kom woon
Wat is die verhuurder se regte in so 'n situasie?

Anel van der Merwe van die Vaaldriehoek het ‘n ongewone probleem. Sy skryf:
Ek woon op ‘n kleinhoewe net buite Vanderbijlpark.
‘n Man het as ‘n huurder op my perseel gebly en hy het alleen gewoon. Hy was ‘n pensioenaris en nie my werknemer nie.
Tydens die nuwe grendeltydperk is die genoemde persoon op 11 Januarie 2021 onverwags oorlede aan nie-Covidverwante oorsake.
Die begrafnis is reeds afgehandel, maar ek het nou ‘n splinternuwe probleem. Klaarblyklik, volgens Afrika-tradisie, moet van sy familielede vir drie maande die kamer betrek waarin hy gebly het. (Dit is letterlik net ‘n kamer.)
Ek is nie juis vertroud met hulle gebruike nie, maar het sy familie een week grasie toegestaan om sy persoonlike eiendom ens. te verwyder, maar hulle is nie daarmee tevrede nie.
In die lig van die Covid-verwikkelinge nou, asook probleme en finansiële verliese wat ons desjare op ons plaas gehad het met mense wat sonder ons medewete of toestemming ingetrek en hulself permanente verblyfreg wou toe-eien, maak hierdie gebruik my baie ongemaklik.
Die meeste van hierdie mense is vreemdelinge vir my en ons het reeds in die tyd voor die begrafnis probleme gehad as gevolg van gebrekkige kommunikasie en onvoldoende inligting wat deurgegee is.
Weet iemand wat my regte is in hierdie geval en veral onder die vlak drie Covid-19 reëls en regulasies? Kan ek wetlik verplig word om hulle vir drie maande toegang tot my eiendom te gee? Indien nie, hoe kry ek hulle weg as hulle nie gehoor gee nie?
Indien ek wel wetlik verplig kan word, hoe verhoed ek na daardie tydperk ongewenste inwoners?
Ek sal dit opreg waardeer as iemand meer lig op hierdie situasie kan werp.
* Anel het intussen in ‘n opvolgboodskap op Facebook gesê dat AfriForum haar met raad gaan bystaan oor die korrekte prosedure om dié sensitiewe probleem te hanteer. Vaalweekblad versoek asseblief dat ons lesers nie rassistiese of beledigende kommentaar lewer wat ons in ‘n verleentheid kan stel nie, maar gesels gerus saam as u inligting het oor die wetlike aspekte in so ‘n situasie.
****************************************************************************
