News

Jong man sterf in botsing by besige kruising

Die polisie en verkeersowerheid was ‘n geruime tyd op die toneel om die oorsaak en omstandighede van die ongeluk te ondersoek

Eerste publikasie in Vaalweekblad – 20 Januarie 2021

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die oggendverkeer op die Vereeniging/Paryspad is Maandag, 18 Januarie, vir ‘n geruime tyd ontwrig na ‘n botsing tussen ‘n silwerkleurige Volkswagen Polo, ‘n polisievoertuig en ‘n bromponie.
Die bestuurder van die groot 400cc bromponie het op slag gesterf. Die jong man se naam was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie amptelik bekend gemaak nie. Die ongeluk het omstreeks 05:45 by die groot kruising tussen die Vereeniging/Paryspad en Frikkie Meyer-boulevard plaasgevind. Daar was glo eers ‘n botsing tussen die polisievangwa en die Polo, waarna die motorfietsryer getref is. Die polisievoertuig het daarna ‘n betonmuur wat as ‘n advertensiebord gebruik word, langs die pad getref voordat dit sowat 40 meter verder in die veld tot stilstand gekom het.
Na wat verneem word is die polisiebeampte nie beseer nie, maar een van die twee vroulike insittendes van die Polo het matige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici ondersoek en behandel. Sy is later deur familielede hospitaal toe geneem.
Die polisie en verkeersowerheid was ‘n geruime tyd op die toneel om die oorsaak en omstandighede van die ongeluk te ondersoek.

Die toneel van die botsing Maandagoggend, 18 Januarie 2021. Die foto is omstreeks 05:57 deur ‘n verbygaande motoris, Christo Vorster, geneem.
Die polisievoertuig wat in die ongeluk betrokke was, het ‘n ent van die toneel af in die veld tot stilstand gekom. Die foto is deur ’n lid van die publiek geneem en aan Vaalweekblad verskaf.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button