News

Ontstelde bestuurder sal beseerde bokke se geskreeu nooit vergeet

"Dit was donker en mistig en hulle was net skielik voor my. Dit breek my hart," sê bestuurder

Eerste publikasie – 20 Januarie 2021 in Vaalweekblad

Retha Fitchat
MEYERTON. – Inspekteurs van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) Vereeniging & Vanderbijlpark is verlede Dinsdagoggend deur ‘n gru-toneel op die R550-roete naby die Heineken-brouery begroet, waar meer as 20 boerbokke deur voertuie doodgery of beseer is.
Die bokke was deel van ‘n trop van sowat 60 wat in die nagtelike ure op ‘n nabygeleë plaas in die Garthdale/Klipriviergebied gesteel en omstreeks 04:00 die oggend oor die R550-pad aangejaag is.
Personeel van die DBV het hulle dadelik na die toneel gehaas nadat hulle ‘n noodoproep ontvang het. Volgens ‘n woordvoeerder van die organisasie het dit soos ‘n toneel uit ‘n gru-rolprent gelyk. Dooie of sterwende bokke het oor die pad besaai gelê, terwyl lewende bokke angstig en verward in die pad rondgestaan het.
Die DBV-inspekteurs het met hul aankoms gevind dat 21 bokke reeds dood was en hulle moes nog 14 wat erg beseer was, op die toneel uitsit. Die oorblywende 30 bokke is ondersoek en terugbesorg aan die wettige eienaar, wat ‘n diefstalklag by die polisie ingedien het.
“Dit was ‘n hartseer situasie en emosioneel baie dreinerend vir ons inspekteurs, maar ons gee om vir diere en sal altyd help as enige dier in nood is,” sê ‘n woordvoerder van die plaaslike DBV.
Een van die voertuigbestuurders wat die bokke omstreeks 04:00 op pad werk toe getref het, sê as hy sy oë toemaak, sien hy steeds die verminkte bokke en hoor steeds die geskreeu van dié wat beseer is.
“Ek het nie gejaag nie en ek glo ek was nie die eerste voertuig wat die trop getref het nie. Dit het gebeur waar die pad ‘n blinde draai maak. Dit was donker en mistig en hulle was net skielik voor my. Dit breek my hart,” sê hy. Sy voertuig, wat nie verseker is nie, is sleg beskadig.
Hy bedank Meyerton se brandweer en die DBV vir hulle vinnige reaksie nadat die voorval aangemeld is. Die polisie ondersoek ‘n saak van veediefstal.

‘n Inspekteur van die DBV besig om van die beseerde bokke op die toneel te behandel.

 

********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button