News

Covid-19 eis nóg ‘n bekende oud-inwoner van die Vaal

Pieter Smit, oudbestuurder van Vaalgate, sterf in hospitaal

Retha Fitchat
VANDERBILPARK. – “Pieter is na Jesus toe.” Met dié woorde het mev. Hentie Smit op 22 Januarie die hartseer nuus aan hul familie en vriende oorgedra dat Covid-19 die lewe van haar man, ‘n bekende oud-inwoner van die Vaaldriehoek, geëis het.
Mnr. Pieter Smit (75) sal deur baie inwoners van Vanderbijlpark onthou word as die kleurryke voormalige bestuurder van die Vaalgate-winkelsentrum. Onder sy bekwame hande en met innoverende bemarking het dié sentrum vanaf 1986 tot met sy aftrede in 2011 ontwikkel tot die hartklop van Vanderbijlpark se sentrale sakegebied. Sy gereelde promosies en wedstryde waarin motors en ander groot pryse te wen was, sowel as die uitsonderlike jaarlikse Kersversierings het kliënte destyds in hul duisende na die sentrum laat stroom. Vaalgate het in daardie jare ook gereeld toptoekennings ontvang vir netheid en hoë higiëniese standaarde.
In 2005 is Pieter en Hentie deur familielede en gemeenskaplike vriende aan mekaar voorgestel. Pieter was destyds ‘n wewenaar en Hentie ook enkellopend.
“Ons het net dadelik gekliek. Dit was die begin van ‘n wonderlike en geseënde liefde,” sê Hentie. Die egpaar is in Maart 2006 getroud en was sedertdien onafskeidbaar. Na Pieter se aftrede het die egpaar na Kuilsrivier in die Kaap verhuis, maar hul sakeonderneming het vir jare daarna steeds sekuriteits- en skoonmaakdienste aan Vaalgate verskaf. Hoewel die Smits tot nou toe steeds baie bedrywig was met soortgelyke kontrakte by sakesentrums en ander instansies in die Kaap, het hulle ook ‘n groot deel van hul lewe aan hul kerk gewy, waar albei voorsangers was.
Pieter en Hentie het onlangs albei Covid-19 opgedoen en Pieter moes in die hospitaal opgeneem word. Die aand voor sy dood het hy nog ‘n WhatsApp aan haar gestuur om te sê hy dank die Here dat hy makliker kan asemhaal en rustiger voel. “Ek dink ek’s nou oukei. Lief jou,” was sy laaste boodskap.
‘n Paar uur later het die hospitaal die skoknuus aan Hentie oorgedra dat hy oorlede is.
“My lewe is leeg sonder hom. Ek was oneindig lief vir daardie man,” sê Hentie. Sy bedank hul Vaaldriehoekse vriende wat haar in dié moeilike tyd met foonoproepe en boodskappe van bemoediging onderskraag.
Dr. Isak Burger, voormalige president van die AGS en jarelange vriend van die Smit-egpaar, het verlede week in sy gereelde rubriek, Godsdiens Aktueel in Beeld, na Pieter en Hentie se uitsonderlike liefde vir mekaar en hul diep geloof in Jesus verwys.
Mnr. Henk Scheepers, bekende plaaslike prokureur wat sy praktyk jare lank uit Vaalgate bedryf het, sê mnr. Smit was ‘n ware gentleman.
“Sy woord was sy eer en daarom kon mens altyd met vertroue met hom besigheid doen. Hy het deurgaans sy kliënte, huurders en werksmense met respek behandel. Dit was ‘n voorreg om hom as vriend te kon ken.”
* Wyle mnr. Smit se gedenkdiens is Donderdag, 28 Januarie, uit die Oase Familiekerk in Kuilsrivier gehou.

Wyle mnr. Pieter Smit, oudbestuurder van die Vaalgate-winkelsentrum, wat op 22 Januarie oorlede is. Hier is hy saam met sy vrou, Hentie.

 

**************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button