News

Geliefde dr. George word vir sy toewyding, grappies en sonskyn onthou

Vaalweekblad se personeel het hom leer ken as ‘n toegewyde dokter wat uit sy pad gegaan het om sy pasiënte nie net fisies nie, maar ook emosioneel te help genees

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Dr. George Rautenbach (72), vir dekades lank ‘n geliefde mediese dokter in die Vaaldriehoek, se lewenslig is uitgedoof, maar dié na aan hom sê dat die sonskyn wat hy in hul harte agtergelaat het, vir altyd sal bly.
Dr. George is verlede maand in sy meenthuis in Vanderbijlpark oorlede nadat die kanker wat hy jare gelede oorwin het, in November verlede jaar hervat het.
Hy is op 28 Maart 1948 in Vereeniging gebore en het hom na skool as mediese dokter aan die Universiteit van die Witwatersrand bekwaam.
Hy was ‘n huisdokter in Kathu in die Noord-Kaap voordat hy as dosent by die Mediese Skool in Bloemfontein aangesluit het.
Na jare in die Vrystaat het hy na die Vaaldriehoek teruggekeer, waar hy die afgelope 30 jaar aan verskeie privaathospitale en staatsinstansies verbonde was.
Hy het die laaste jare van sy mediese loopbaan op narkose toegespits, maar het in sy vrye tyd ook Teologie en Ingenieurswese bestudeer.
Vaalweekblad se personeel het hom leer ken as ‘n toegewyde dokter wat uit sy pad gegaan het om sy pasiënte nie net fisies nie, maar ook emosioneel te help genees.
Hy het veral ‘n sagte plek vir bejaardes en kinders in nood gehad. Volgens sy suster, me. Hebeth Watts, het hy nie vir die familie gesê dat sy kanker verlede jaar hervat het en na sy niere versprei het nie.
“Ek glo die dokters het vir hom gesê dis net ‘n kwessie van tyd, en hy het besluit om dit so te aanvaar. Sy keuse was om nie vir chemobehandeling, bestraling of selfs dialise te gaan nie.
Hy het nooit gekla oor pyn nie, net groot moegheid. Ondanks sy siekte was hy altyd vol grappies en sonskyn,” sê sy.
Omdat dr. George ‘n onderliggende siekte gehad het, het hy hom so goed as moontlik geïsoleer en min uitgegaan in ‘n poging om Covid-19 besmetting te vermy.
Om dié rede was sy bure aanvanklik nie bekommerd toe hulle hom ‘n paar dae nie in sy erf sien nie.
‘n Buurman, mnr. Willem Booyens, het egter onrustig geraak en saam met nog ‘n buurman ondersoek gaan instel.
Hulle het dr. George op die vloer in sy kombuis aangetref, waar hy moontlik reeds ‘n paar dae tevore gesterf het.
Hebeth sê die familie het wonderlike herinneringe aan George.
“Hy het graag houtwerk gedoen en geskilder, en kon baie mooi klavier speel. Ons het baie gelag, baie konserte rondom die klavier gehou en baie, baie pret saam gehad. My mooi herinneringe van George oorskadu al die seer,” sê sy suster.
Dr. George se lewe het die afgelope jare gedraai om William, sy seun wat hy as kind aangeneem het, sy skoondogter Elize, en sy kleinseun, Logan George.
“My pa was ‘n besonderse mens met ‘n hart van goud,” sê William.
“Hy was vreeslik lief vir Logan en het dit baie geniet om saam op vakansie te gaan. Hy het gehou van lees, fotografie en om video’s te kyk. Daarby was hy ‘n baie spontane mens wat almal om hom kon laat lag, maak nie saak waar hy was nie. Hy was ‘n amazing pa, oupa en mens,” sê William.

Weens die inperking het die familie privaat van dr. George afskeid geneem – ‘n man wat met sy opregtheid en menslikheid meegewerk het om die Vaaldriehoek ‘n mooier plek te maak.

Dr. George Rautenbach in sy teaterklere.
Wyle dr. George Rautenbach en sy kleinseun, Logan George.

*******************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button