News

(Waarskuwing: ontstellende foto’s) Na 15 maande se pyn is amputasie al uitweg

Charmaine Burger en haar verloofde, Herman Bronkhorst, was op 3 November 2019 in 'n ernstige motorfietsongeluk betrokke

Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 24 Februarie 2021

WAARSKUWING: FOTO’S VAN CHARMAINE SE VERGRUISDE BEEN, DIREK NA DIE ONGELUK, VERSKYN ONDER AAN DIE BERIG. INDIEN JY GRIL VIR BLOEDIGE TONELE, MOENIE AFROL TOT HEEL ONDER NIE.

Retha Fitchat

VEREENIGING. – Vir ‘n jaar en drie maande het Charmaine Burger (24) dapper bly hoop dat haar regterbeen en voet wat in ‘n padongeluk vergruis is, gered sou kon word.

Op 11 Februarie vanjaar moes sy egter die onvermydelike aanvaar: Daar was geen ander uitweg as om haar been te laat amputeer nie.

Charmaine en haar verloofde, Herman Bronkhorst (29), was op 3 November 2019 met hul motorfiets op pad huis toe na ‘n kuier by haar ouers in Vereeniging, toe ‘n trok sy vrag op die R59-snelweg tussen Redan en Meyerton verloor. Die saamgeperste aluminiumblokke het die hele pad vol geval, direk voor hul aankomende motorfiets.

Met impak is Herman se ribbes ernstig beseer en hy is na ‘n plaaslike hospitaal vervoer. Charmaine het verskeie beserings opgedoen, waarvan haar regtervoet en -been die ergste was. Haar gebreekte beendere kon op die ongelukstoneel deur die groot, gapende wonde aan haar been en voet gesien word. Sy is aanvanklik na die Sebokeng-hospitaal vervoer en van daar na die Baragwanath-hospitaal, voordat sy na die Johannesburgse Algemene Hospitaal oorgeplaas is. Sy is per ambulans teruggebring na Vereeniging Mediclinic, waar die dokter haar voet en ‘n gedeelte van haar been wou amputeer.

Sy het gepleit dat hulle haar been moes probeer red, waarna sy na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas is vir spesialisbehandeling. Eksterne skroewe is toe aangebring om haar vergruisde beendere vir vier maande lank te spalk in die hoop dat dit sou genees.

“Die pyn was ondraaglik. Nie net liggaamlik nie maar ook psigies, verstandelik en geestelik. Daar was in die volgende 15 maande baie slapelose nagte en baie op-en-af doktersbesoeke,” sê Charmaine. Met haar besoek aan die Baragwanath-hospitaal vroeg vanjaar, het dokters bevind dat haar infeksietelling te hoog was. Hulle kon nie langer veg vir haar been en voet nie. Sy is na die Sebokeng-hospitaal teruggestuur vir ‘n amputasie, wat toe op 11 Februarie uitgevoer is.

Charmaine, bekend vir haar positiewe lewensuitkyk, is reeds ontslaan en sterk aan by haar ouers, Koos en Elmarie Burger van Vereeniging.

Sy is vinnig besig om haar krukke te bemeester maar hoop om mettertyd ‘n kunsbeen te kry sodat sy weer normaal sal kan loop. Sy sal in ‘n later stadium nog operasies moet ondergaan, soos vir ‘n besering aan haar regterarm waar ligamente en spiere van haar bo-been in haar arm oorgeplant gaan word. Hoewel sy nog nie weer motorfiets gery het nie, sal sy weer ry as die geleentheid kom. Haar pa is president van Mystify Vaal Motorfietsklub en Charmaine deel steeds sy liefde vir ysterperde.

“My ouers is my inspirasie om nooit te gaan lê en nooit tou op te gooi nie. My ma versorg my wonde al van die begin af. Daar was dae en nagte wat ons omgehuil het. Sy deel in al my gevoelens – my eie Supermamma,” sê Charmaine.

Dan het sy ook vir Herman, sy ouers en familie wat haar eindeloos ondersteun. “Hy werk tans in Durban en vlieg Vrydae na werk terug om by my te wees. Sondae vlieg hy weer terug. Hy is ‘n baie goeie luisteraar en gee so baie om. Al kan hy nie heeltyd fisies by my wees nie, is hy net ‘n foonoproepe ver en voel dit of hy heeltyd reg langs my is.”

Hul troudatum moes weens die ongeluk onbepaald uitgestel word. Hulle wil eers geld spaar en wag vir haar prostetiese been sodat sy gemaklik kansel toe kan stap. Hoewel Charmaine ‘n goeie betrekking gehad het, kon sy sedert die ongeluk nog nie weer werk nie.

Omdat die bestuurder van die trok die aand van die ongelukstoneel af weggery het, kon hulle nie ‘n eis instel nie omdat hulle nie weet van watter onderneming dit was nie, maar Charmaine het wel ‘n eis by die Padongelukkefonds ingedien. “Ek voel positief na die amputasie en is weer lus vir die lewe. Ons het ‘n baie goeie ondersteuningstelsel wat my met gebed en boodskappe bystaan. Ek is so dankbaar en waardeer dit opreg,” sê sy.

Sy weet dat daar nog ‘n lang pad na volkome herstel voorlê, maar die ergste is hopelik nou verby. Enigiemand wat Charmaine met ‘n skenking wil ondersteun om gespesialiseerde opvolgbehandeling te ontvang, kan ‘n inbetaling maak na Mev. E. Burger, Capitec, spaarrekening: 1563460260, takkode: 470010

Charmaine bedank graag vir Zander Steyn van 90.6 FM Stereo, die Open Hands Project, Landie Greyling,  ER24 se personeel wat haar die aand van die ongeluk bygestaan het, en almal wat na die ongeluk ‘n skenking aan haar gegee het …❤️  

Herman Bronkhorst en Charmaine Burger, wat in 2019 in ‘n ernstige motorfietsongeluk betrokke was.
Charmaine en Herman voor die ongeluk.
Charmaine en Herman.
Dokters het in hierdie stadium nog probeer om Charmaine se been te red
Charmaine, enkele dae na die amputasie.
Direk na die amputasie in die Sebokeng-hospitaal.
Charmaine is reeds ontslaan en besig om haar krukke te bemeester.

 

Charmaine se vergruisde voet op die ongelukstoneel
Die beserings aan haar been direk na die ongeluk.
Charmaine se regtervoet en been is aanvanklik met eksterne skroewe gespalk in die hoop dat dit sou genees.

  *********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button