
Met die regte bril kan studente akademiese sterre sien!
VEREENIGING. – Vir Sonja Bresler is die menslike oog nie net ‘n interessante stukkie biologie nie. Sy het van jongs af ‘n besondere bewondering vir dié uiters belangrike sintuig en besef maar te goed hoe kosbaar ‘n mens se oë en goeie oogsorg is. Vandag leef sy haar passie uit in haar optometriepraktyk, waar sy werklik ‘n verskil in mense se lewens maak.
Sonja het haar B.Optom-graad in 2001 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf en onder andere by Torga Optical en Stanley & de Kock gewerk voordat sy in Mei 2013 haar eie praktyk in die Rose Girlz Building in Genl. Hertzogstraat 144, Drie Riviere, geopen het.
By Sonja Bresler Optometrists streef sy en haar personeel daarna om die hoogte gehalte diens sowel as die beste moontlike produkte vir alle oogsorgbehoeftes aan hul kliënte te bied. Omvattende oogtoetse, brille, kontaklense, sonbrille, sowel as die nuutste moderame is hier beskikbaar. Hoewel professionaliteit en kundigheid die wagwoorde is, is die atmosfeer in dié praktyk alles behalwe koud en klinies.
Sonja en haar personeel se warmte en gasvryheid laat jou gou besef dat jy hier nie net hoëgehalte kundigheid ervaar nie, maar terselfdertyd nuwe vriende gemaak het! Wanneer Sonja nie met werksake besig is nie, bring sy graag tyd deur saam met haar man, kinders en vriende, want sy koester menslike nabyheid en glo dit help ‘n mens ontspan en herlaai.
Sy kook graag en geniet dit ook om ‘n goeie boek te lees. Sy besoek ook graag mooi plekke in ons land en is mal oor die Bosveld. Sonja doen moeite om op hoogte te bly van alle nuwe ontwikkelings in haar vakgebied, daarom is sy altyd in staat om ingeligte raad aan haar pasiënte te gee. Sy moedig studente wat lanklaas ‘n behoorlike oogtoets ondergaan het, aan om te kom inloer.
Oogprobleme wat vroegtydig geïdentifiseer word, kan ‘n groot invloed op ‘n student se akademiese sukses hê.
Foto: Besoek Sonja Bresler Optometrists in Genl. Hertzogstraat 144, of skakel die praktyk by (016) 423 3255 vir ‘n afspraak.

******************************************************************************************
