Vind Europese sjarme, huislikheid en 50 jaar se koskennis by Footprints
Footprints Bistro & Deli in Greylaan 32A, Vereeniging, is normaalweg van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 17:00 oop en ook op spesiale dae soos Moedersdag. Besoek hulle gerus in Greylaan 32A of bespreek by (016) 454 5455
VEREENIGING. – Fynproewers, hier is ‘n juweel van ‘n nuwe restaurant in die hartjie van Vereeniging, digby Mediclinic en Medi-Village, waar jy disse teen sakpaspryse kan geniet – en dit alles onder die bekwame hand van Peter Hallmanns, ‘n gesogte sjef met sowat 50 jaar se kundigheid in die voedselbedryf uit verskeie wêrelddele.
Op 9 Mei kry kosliefhebbers die geleentheid om eerstehands met Peter en sy span by Footprints Bistro & Deli in Greylaan 32A kennis te maak, wanneer ‘n heerlike driegangmaaltyd vir Moedersdag teen R245 per persoon aangebied word. (Let wel, besprekings is noodsaaklik, so kontak Peter so gou as moontlik by 062 755 6642).
Met die intrapslag by Footprints besef jy hierdie gaan nie jou gewone kitskos-ervaring wees nie. Die restaurant met sy verskillende kamers is ‘n gerestoureerde huis van sowat 80 jaar oud, wat kunstig gemeubileer is om soos die vertrekke in ‘n gesellige huis met ‘n Europese atmosfeer te lyk – kompleet met boeke, boekrakke en pragtige gerestoureerde meubels uit Peter se persoonlike versameling. Net die plek om jou na liggaam en gees te versterk met ‘n hartlike ontbyt, ‘n deftige koppie koffie of tee met ‘n peuselhappie, of ‘n ligte maar vullende middagete.
Sjef Peter (65), wat deur sy roemryke loopbaan in topposte aan talle vooraanstaande hotelle en instansies verbonde was, het al vroeg in sy jare in Suid-Afrika die bynaam Jabulani Kwena by sy destydse Zoeloe-kollegas gekry. Dit beteken “vrolike krokodil”. Peter reken dit het iets met sy gesonde eetlus en liefde vir kos te doen!Hy het reeds as 15-jarige seun in sy geboorteland, Duitsland, besluit om eendag ‘n sjef te word en het na voltooiing van sy skoolloopbaan in 1970 met sy vakleerlingskap by die Elisenbrunnen Restaurant in Aachen begin. Hy het daarna as commis de cuisine by die Atlantis Hotel in Zürich, Switserland gewerk voordat hy in 1975 na Suid-Afrika verhuis het en ‘n pos by die land se eerste vyfster-hotel, die Carlton in Johannesburg, aanvaar het. Verskeie ander groot hotelle het gevolg waar hy homself tot hoof-sjef opgewerk het.
Hy het uiteindelik distriksbestuurder van ‘n groot onderneming wat op nywerheidspyseniering toespits, geword en hom ook onderskei as opleier aan die Institute for Hospitality Studies, waar hy in 1996 tot direkteur van die instituut bevorder is. In 1999 het hy by Nestlé Food Services SA as advies- en ontwikkelingsjef aangesluit en was binne ‘n jaar een van die voorste advies-sjefs in dié prestige onderneming.Hy het deur die jare verskeie mentors soos Raymond Ackerman, Billy Gallagher en David Wigely gehad, wat hom nie net aan goeie en eerlike sakepraktyke blootgestel het nie, maar hom ook die ware betekenis van diensbaarheid, diplomasie, beleefdheid en opregtheid geleer het.As passievolle sjef, toegewyd aan die bevordering van die kookkuns, was Peter ook aktief betrokke by die werksaamhede van die South African Chefs Association (SACA), waarvan hy vyf jaar ‘n direkteur in die hoofbestuur was en met lewenslange lidmaatskap vereer is.
Met die stigting van sy eie onderneming, Strategic Food Solutions, het hy in 2007 Fonterra Brands Middle East as ‘n kliënt aan boord gekry, wat hom in 2009 oorreed het om permanent as senior raadgewende sjef by hulle aan te sluit. In 2012 het hy weer wortels opgetrek vir ‘n skuif na Lakeland Dairies, een van Ierland se voorste suiwelprodusente, waar hy die senior ontwikkelings- en raadgewende sjef geword het. Hoewel hy nou sy “aftreejare” binnegaan, gaan hy beslis nie die tuig neerlê nie. “Ons werk is 100% passie-gebaseer, en passie tree mos nie af nie,” sê Peter.
Sy steunpilaar is sy vrou, Erika, ‘n Afrikaanse Boerenooi wat sy liefde vir goeie kos deel. Hy noem haar sy “Vrystaat Special” en die mens wat saam met hul twee kinders, Günther en Anja, die meeste sin aan sy lewe gee. Die Hallmanns het besluit om nou in die Vaaldriehoek te kom anker gooi om nader aan Erika se familie te wees. “Bo alles sê ek dankie aan God, want deur Sy genade, ondersteuning en die talent wat hy aan my geskenk het, kan ek terugkyk op ‘n fantastiese en genotvolle loopbaan,” sê Peter.
* Footprints Bistro & Deli is normaalweg van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 17:00 oop en ook op spesiale dae soos Moedersdag. Besoek hulle gerus in Greylaan 32A of bespreek by (016) 454 5455. Lees meer op hul Facebookblad by https://www.facebook.com/Footprints.bistro.and.deli.32Footprints Bistro & Deli in Greylaan 32A in Vereeniging.
Foto’s
Erika Hallmanns met van die smaaklike tuisgemaakte konfyte, ingelegde produkte en ander lekkernye wat by Footprints beskikbaar is.


Daar is private tafeltjies vir twee, of ‘n groot tafel vir ‘n gesin of vriende, afhangende van wat jy verkies.

GEBOU: Footprints Bistro & Deli in Greylaan 32A, Vereeniging,

*******************************************************************************************
