
Wat gebeur wanneer ’n bekroonde Countrysangeres en ’n gesoute radio-omroeper besluit om kragte saam te span om legendes te vereer?
’n Pragtige radiotreffer word geskep, wat beloof om net so gewild te wees soos die mense oor wie dit gaan.
“Tydens ’n optrede by ’n groot Countryfees, het Ignaz Streicher van Overvaal Stereo met my ’n onderhoud gedoen en genoem dat hy graag saam met my ’n liedjie sou wou opneem om die musieklegendes in die bedryf te vereer,” vertel die geliefde sangeres, Maritza oor hierdie spesiale projek. “Nadat ek daaroor gedink het, het ek hom laat weet dat ek en Bruno Andries aan iets werk. Só is Ons Legendes toe gebore.”
“As omroeper het ek te doen met verskeie kunstenaars. Ek het tydens Lance James se begrafnis besef ons waardeer hierdie mense, maar dat ons dit dalk nie genoeg sê of wys nie. Dit was met Sally Vaughn se afsterwe wat ek besef het ek wil iets spesiaal doen vir hierdie mense, sodat die van hulle wat nog lewe dit kan beleef en ervaar,” voeg Ignaz by. “Omdat ek nie ’n sanger is nie, het ek nie eers geweet waar om te begin nie. Binne ’n week nadat ek en Maritza egter hieroor gesels het, is die lied geskryf.”
Beide Maritza en Ignaz glo dat Ons Legendes sal aanklank vind by die publiek, omdat die meeste van hulle grootgeword het met die musiek van die negentien legendes wat in die lied genoem word en dit hulle ook nostalgies sal laat voel.
As gevolg van die inperking het hulle ook besef hoe swaar musikante, en veral hierdie legendes, op die oomblik kry, daarom het hulle besluit om die wins van die liedjieverkope te skenk aan die legendes wat nog leef.
Die enkelsnit word natuurlik ook gekomplementeer deur ’n treffende musiekvideo wat eersdaags op die kassie te sien sal wees. Dit is by die Oakhurst Insurance George Arts-teater verfilm en kykers word op reis geneem na die verlede.
“Ironies genoeg is die video geskiet gedurende die tydperk toe teater-deure nog vir die publiek gesluit was. Dit het my siel geraak om daar te werk en te weet dat die teater toe is. Ek het net weereens besef dat dit op die skouers van Jan Publiek rus om die bedryf se deure oop te hou,” sê Ignaz.
Maritza werk al vir vyftig jaar in die musiekbedryf en het oor die jare verskeie treffers en albums (Blonde Visserman, Ek is lief vir die wêreld, My Hart Sing Van Liefde, Koemadoe, Blou van Onthou en meer) uitgereik en talle musiektoekennings, waaronder ’n Sarie- en Melodie-toekenning, gewen.
Sy besit twee kunsgalerye (Gallop Hill Gallery), een in Sedgefield en een in Franschhoek en geniet haar rustige lewe in ’n kusdorpie op die Tuinroete.
Ignaz is al vir sestien jaar ’n radio-omroeper en het al die voorreg gehad om saam met die room van plaaslike en internasionale musiek te werk.
Hoogtepunte van sy loopbaan sluit in om ambassadeur en seremoniemeester te kon optree vir BZN se laaste optrede as ’n groep en die voorreg om saam met Jan Keizer en Amy Schilder te kon werk voordat hulle die musiekbedryf finaal gegroet het.
Hy woon tans in Viljoenskroon en voel geseën om elke dag te kan doen waarvoor hy lief is en mense te vermaak met die mooiste musiek wat die radio het om te bied.
Ons Legendes is geskep om hulde te bring aan die sterre wat verantwoordelik was vir die groei en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en hopelik gaan hierdie besonderse lied genoeg harte raak om nog vir baie jare op luisteraars se lippe te bly.
VOLG HULLE OP:
- Facebook – https://www.facebook.com/ignaz.streicher en https://www.facebook.com/MaritzaSangeres
- Instagram – @maritzasangeres
ONS LEGENDES
Lirieke
Maritza:
Was ek maar ‘n digter dan sou ek sing
om dankie te sê vir Lance en vir Min.
Ons hart klop nog steeds vir Sally en Gene,
Onthou julle? Daar het alles begin.
KOOR:
Ons legendes se liedjies praat met ons hart
hulle deel hul vreugde, (hul) liefde en smart.
Ons is lief vir country en Afrikaans
vergeet jou sorge, kom ons sing en dans
Ignaz:
Maritza, die troepies onthou Koemadoe
kom ons gee haar almal tog ‘n drukkie, toe
Doep vertel sy sprokie vir’n stadskind
en Laurika se kinders van die wind
Maritza:
Gé bly ons liefling, hoor my lied
ons verlang saam met Sonja na Groep Twee
kom ons gee vir Cora-Marie ‘n roos
en vir Bles ‘n ruiker om almal te troos
KOOR:
Ons legendes se liedjies praat met ons hart
hulle deel hul vreugde, (hul) liefde en smart.
Ons is lief vir country en Afrikaans
vergeet jou sorge, kom ons sing en dans
Ignaz:
Rina se stem weergalm oor die see
saam met Carike se byeboerwa
Barbara en Billy se warm countryhart
sing saam met hul vriende Jody en Clive
KOOR:
Ons legendes se liedjies praat met ons hart
hulle deel hul vreugde, (hul) liefde en smart.
Ons is lief vir country en Afrikaans
vergeet jou sorge, kom ons sing en dans
Ons legendes se liedjies praat met ons hart
hulle deel hul vreugde, (hul) liefde en smart.
Ons is lief vir country en Afrikaans
vergeet jou sorge, kom ons sing en dans
************************************************************************************************************

