News

Vyf poskantore in en om die Vaal beroof – SASSA-bejaardes betaal die prys

‘n Moontlike verband tussen die rooftogte word ondersoek

Eerste publikasie: Vaalweekblad, 9 Junie 2021

 

DENEYSVILLE. – Die vrede in dié rustige vakansiedorp aan die Vaaldam is verlede Donderdag wreed versteur toe die poskantoor se personeel in die sakegebied deur gewapende rowers oorval is.

Volgens ooggetuies wat nie geïdentifiseer wil word nie, het drie rowers die poskantoor omstreeks 09:00 binnegekom en geld geëis. Die verdagtes, ‘n man en twee jong vroue, was glo met AK47’s gewapen. Die rooftog is seepglad en binne ‘n paar minute uitgevoer, waarna die rowers met hul buit in ‘n onlangse model wit Golf ontvlug het.

‘n Omstander kon daarin slaag om ‘n foto van die voertuig te neem en het dit onmiddellik saam met die registrasienommer op WhatsApp aan beskermingsdienste en gemeenskapsgroepe versprei in die hoop dat die rowers vinnig vasgetrek kon word. Vaalweekblad het die noodberig ook dadelik op Facebook geplaas, waarna lesers laat weet het dat die voertuig op die Heidelbergpad opgemerk is. Die rowers het egter ontvlug en sover vasgestel kon word, is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Daar is intussen ook vasgestel dat die nommerplaat, TKV 595 GP, vals was.Dit was dié keer SASSA-bejaardes van die Deneysville-omgewing wat die prys vir die rooftog moes betaal omdat dit dié dag, 2 Junie, hul uitbetalingsdag sou wees. Hulle moes dus omdraai en sonder hul maandelikse toelae huis toe gaan. Vaalweekblad het nie-amptelik verneem dat die rowers met R250 000 se SASSA-geld ontvlug het.

Die rooftog was die soveelste een wat die afgelope 10 maande in die Vaaldriehoek en omliggende gebiede uitgevoer is. Die poskantoor by Riverside Boulevard Mall (by “Checkers in die gat”) is in Augustus 2020 beroof. Op 7 Maart 2021 is die Sharpeville-poskantoor beroof. Op Dinsdag, 4 Mei, is Vanderbijlpark se hoofposkantoor ook van ‘n onbekende bedrag beroof en ‘n dag later was dit die Sebokeng-poskantoor se beurt.

Op 17 Mei is die poskantoor in Voortrekkerstraat, Heidelberg, deur sewe rowers, wat hulle aanvanklik as kliënte voorgedoen en buite in ‘n ry gewag het, oorval. Tydens die rooftog is skote geskiet wat ‘n kliënt in die been gewond het. Die rowers het met hul buit in ‘n Toyota Corolla en ‘n silwer Etios ontvlug.Vaalweekblad wag nog vir die polisie se amptelike kommentaar, maar nie-amptelik is verneem dat ‘n verband tussen die verskillende rooftogte ondersoek word.

 

Die voertuig waarin die rowers Donderdag na die rooftog by Deneysville se poskantoor, ontvlug het. Die foto is deur ‘n lid van die publiek, wat ‘n ooggetuie van die misdaad was, geneem

************************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button