News

Virus-verwante siekte eis flink sakevrou van die Vaal

Sakevrou Petro Swartz verloor haar weke lange stryd teen Covid-19

 

VEREENIGING. – Na ‘n stryd van etlike weke het Covid-19 verlede maand die lewe van mev. Petro Swartz (60), een van die Vaaldriehoek se flink sakevroue, geëis.
Sy en haar man, André Swartz, wat jare lank ‘n gewilde omroeper op VCR 90.6 FM Stereo was, het deur die jare verskeie sakebelange gehad. Hulle het in die verlede onder andere André’s Car Sales en ‘n eiendomsagentskap bedryf en was ten tyde van haar afsterwe albei as eiendomsagente aan Red Door Properties in Drie Riviere verbonde.
“Petro was ‘n ‘jong’ 60. Sy het baie hard gewerk en het ongelooflik baie energie gehad,” sê haar suster, Anne.
“Sy het die naweek van 17 April oor ‘n krapperigheid in haar bors begin kla. Ons is nog die volgende oggend uit vir ontbyt en het by ons ouers ‘n draai gemaak, waar sy so vrolik en gelukkig was. Die Dinsdag daarna het sy Covid-positief getoets en die Vrydagmiddag het sy gesê sy voel of die siekte haar begin onderkry. Sy is toe op 23 April in die Midvaal-hospitaal opgeneem.
“Petro se toestand het egter net agteruit gegaan en sy is op Donderdag, 29 April, na die intensiewe sorgeenheid verskuif en op ‘n ventilator geplaas.


Van daar af het haar niere begin ingee en sy het oral deur haar liggaam inflammasie ontwikkel, selfs nadat haar Covid-infeksie verdwyn het. Sy het mettertyd vaskulitis ontwikkel – ‘n seldsame toestand wat ontsteking van die bloedvate behels. Haar liggaam was net nie sterk genoeg om terug te veg nie. Sy is net na middernag op 15 Mei, na twee weke op die ventilator, van ons weggeneem,” sê Anne.
Petro het in Vereeniging grootgeword en skoolgegaan en het die grootste deel van haar volwasse lewe in die Vaaldriehoek gewoon. Sy was lief vir haar werk en vir binnenshuise versiering en het ook graag meubels gerestoureer en geverf. Haar grootste liefde was egter haar familie. Haar kinders en kleinkinders was veral na aan haar hart.
“Sy was baie georganiseerd en altyd betrokke by haar familielede – of dit nou was omdat ons siek was of liefdesprobleme gehad het, sy was altyd daar om alles vir almal te help uitsorteer,” sê Anne.
‘n Roudiens is reeds vanuit die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid gehou. Petro word buiten André ook oorleef deur haar kinders, Carel (38) en Jackie (36), skoonseun Cobus, twee kleinkinders, Jessica en Mila-Jane, en drie susters, Anne, Helena en Daleen. Sy laat ook haar ouers, mnr. Carel en mev. Magda Kleynhans agter. Mnr. Kleynhans (91) was jare lank ‘n raadslid van die Vereeniging-stadsraad en die Kleynhans-egpaar was sedert 1984 ook ‘n paar keer burgemeesterspaar van Vereeniging.
“Petro laat ‘n groot leemte in ons harte en lewens agter. Sy was ‘n sterk persoon wat van ons sou verwag het om aan te gaan en te doen wat gedoen moet word, maar ons sal haar nooit ophou mis nie,” sê Anne.

Wyle Petro Swartz, hier saam met haar man, André, ‘n oud-omroeper van 90.6 FM Stereo.

Wyle Petro Swartz.
Petro met haar kleinkinders.

******************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button