News

Longontsteking eis gewilde sportman, Mike Nel

Hy was ‘n sportman in murg en been en was dekades lank betrokke by sportsoorte soos hokkie, rolbal, ringtennis, korfbal, krieket en hengel.

VANDERBIJLPARK. – “Ons hele familie is in skok en ons trane hou net aan loop. Ons weet regtig nie wat ons sonder Oupa gaan doen nie.”
Só sê me. Brechtje Healley, kleindogter van een van die Vaaldriehoek se sportlegendes, Mike Nel (75), wat vroeg Sondagoggend aan longontsteking gesterf het. Hy sou komende Sondag 76 geword het.
Volgens Brechtje het mnr. Nel verlede Dinsdag begin siek voel. Hy is Donderdag dokter toe, waar hy met brongitis gediagnoseer is. Teen Saterdagoggend was daar nog geen beterskap nie. Sy vrou, Priscilla, was ook siek, dus het hul dogter albei na Cormed-hospitaal geneem waar ‘n dokter bevind het dat mnr. Nel longontsteking het. Die dokter het versoek dat die egpaar vir Covid-19 getoets moes word. (Die uitslae was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie bekend nie).
Die Nel-egpaar is toe terug na hul huis in SW1, Vanderbijlpark. Mnr. Nel se gesin het dadelik ‘n suurstofmasjien vir hom gekry omdat hy steeds moeilik asemgehaal het.
“Saterdagaand was Oupa en Ouma rustig. Ek het nog gebel om te hoor of hulle geëet het en albei het met my gepraat. Volgens Ouma het Oupa haar Sondagoggend net voor 02:00 geroep en gevra om hom te help om in ‘n stoel in die sitkamer te gaan sit en sy rug te vryf. Terwyl sy besig was het hy net sy kop agtertoe laat sak en sy laaste asem uitgeblaas,” sê Brechtje.
Hul dogter, wat in die hoofhuis op dieselfde erf woon, het dadelik ‘n ambulansdiens geskakel en ER24 was gou op die toneel, maar kon ongelukkig niks meer vir mnr. Nel doen nie. “Avbob het toe vir Oupa kom haal,” sê Brechtje.
Mnr. Nel is op 27 Junie 1945 in Barkley-Oos gebore en het op die ouderdom van 16 na die Vaaldriehoek gekom. Hy het meer as 30 jaar diens in die destydse Yskor se ketelmakers-werkswinkel (boiler shop) gehad voordat hy met pensioen afgetree het. Hy was ‘n sportman in murg en been en was dekades lank betrokke by sportsoorte soos hokkie, rolbal, ringtennis, korfbal, krieket en hengel. Hy was deur die jare onder andere deel van die Cecil Olderidge hokkie- en krieketklub en was ook betrokke by Laerskool Totius se mini-hokkie, sowel as by die Rooi Kruis.
SA Ringtennis het Sondag hul meegevoel aan die Nel-familie oorgedra en gesê mnr. Nel het deur die jare ‘n groot invloed op baie spelers gehad. “Hy was altyd reg met ‘n glimlag, advies en raad. Ons gaan hom baie mis!”
Volgens sy gesin was hy nie net ‘n legende op en rondom die sportveld nie maar in alle opsigte van sy lewe. “Ek het hom nog nooit in my lewe kwaad gesien nie. Hy was ‘n opregte mens wat na aan die Here was. Hy en my ouma het ons geleer hoe om lief te hê en God die middelpunt van elke verhouding te maak. Hy was ons rolmodel, beste vriend, grootste ondersteuner en hero. Hy is nou waar hy op sy gelukkigste is… by God,” sê Brechtje.
Net soos met sy kinders, was mnr. Nel ook aktief betrokke by sy kleinkinders en het hulle graag na skool- en sportbedrywighede rondgery. Hy was ook altyd langs die veld as hulle aan sport deelgeneem het.
Wyle mnr. Nel word buiten sy vrou deur vier kinders oorleef: Johannes Nel, Brechtje Gouws, Wilma Sharpe en Michelle Herbst, sy skoonkinders, en Martin en Lizelle Seaman, wat ook vir hom soos eie kinders was. Hy laat ook nege kleinkinders agter.
Die gesin beplan om ‘n troosdiens vir sy naaste familie te hou, en ‘n aparte viering van sy lewe vir sy naaste vriende.

Die Nels op hul troudag.
Wyle Mike Nel.
‘n Paar lede van die Nel-familie bymekaar.
Wyle mnr. Mike Nel.
Wyle mnr. Mike Nel, hier saam met sy vrou van die afgelope 51 jaar, Priscilla.

**********************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button