Landbougemeenskap reik uit na boere nadat kwaaddoeners voer aan die brand steek
Die landbougemeenskap het die naweek uitgereik na boere in die Meyerton-omgewing wat al hul voer vir die winter verloor het toe dit na bewering deur plakkers in die omgewing aan die brand gesteek is.
MEYERTON. – Mnr. Hannes Kriek (77), en sy vrou, Constance (69), van die plaas Silwer Eike het op Sondagoggend 20 Junie bykans 2 000 bale verloor nadat dit omstreeks 02:00 die oggend deur kwaaddoeners aan die brand gesteek is.
Die brande is vermoedelik opsetlik en uit weerwraak gestig nadat die polisie op 19 Junie ‘n nabygeleë sjebien gesluit het.

Organisasies soos Boere Droogtehulp SA het skenkings van voer gewerf en teen Dinsdagoggend het die eerste vragmotor vol voer vanaf Bloemfontein op die plaas aangekom.

Volgens die Krieks is altesaam 102 bale voer, wat 1.2 meter in deursnee is, deur weldoeners geskenk.
Boere van Sasoburg en omliggende gebiede het ook hulp verleen.
Die Krieks het lede van die Meyerton GPF, Hanno Kukard, Roedolf de Wet, Kobus Hoffman en Pierre Wheeler van Vryheidsfront Plus, wat gehelp het om voer aan te ry, bedank.

Die Krieks het laat weet dat hulle oneindig dankbaar is en het ook Kobus la Grange en sy vrou Madeleine bedank wat op Sondagoggend gehelp het om met hul TLB voer oop te krap en weg te skuif.
