VANDERBIJLPARK. – Twee dansers van CK Dance Project in Vanderbijlpark het oor die laaste paar maande besondere prestasies in internasionale danskompetisies behaal, ten spyte van Covid-19 inperkings.
Die Latyns-Amerikaanse duo, Stephany Kruger en Cameron de Bastos, het gedurende Desember 2020 virtueel aan Talent America deelgeneem en met die louere in hul afdeling weggestap. Gedurende Mei vanjaar het hulle dit weer gedoen tydens die Star Bridge International Art-Contest. Dit is aangebied deur Pole en Ierland. Ses-en-twintig lande het teen mekaar meegeding, hoofsaaklik uit Europa, die mekka van dans. Deelnemers is in albei kompetisies deur wêreldbekende beoordelaars in die dansbedryf beoordeel.
Die twee talentvolle Vaaldriehoekse dansers se verhaal het reeds in 2019 begin toe hulle tydens die Show Your Talent Competition algeheel onder die top 10 geëindig het. Dit het hulle laat kwalifiseer om aan Talent Africa se nasionale kampioenskappe in 2020 deel te neem, maar toe tref die pandemie die wêreld en alles word tot stilstand geruk. Die kampioenskappe moes virtueel plaasvind.
Steph woon in die Vrystaatkant en Cameron in die Gautengkant van die Vaaldriehoek. Aangesien die provinsiale grense vir maande gesluit was, kon die twee nie saam oefen of ‘n nuwe video van hulle roetine opneem nie. Hulle moes noodgedwonge daarmee tevrede wees om met ‘n ou opname van hulle roetine in te skryf. Hulle het nietemin gekwalifiseer om Suid-Afrika internasionaal in die dansarena te verteenwoordig.
Teen Desember 2020 het die inperkings darem sodanig verslap dat hulle met die hulp van studio-eienaar en choreograaf, Chantelle Kriel, hul roetine kon verfyn en ‘n nuwe opname kon maak. In Mei vanjaar het hulle besluit om die sprong te waag en met ‘n splinternuwe roetine, gechoreografeer deur Sian Cooper van CK Dance Project, deel te neem. Weer eens het hulle met goud in hul afdeling weggestap!
Wanneer hulle nie dans nie, is Cameron ‘n finalejaar BSc IT-student aan die Vaaldriehoekkampus van NWU en Stephany ‘n graad 10-leerder aan Hoërskool Sasolburg.
Albei beoefen verskeie dansstyle en hulle het reeds gekwalifiseer om aan vanjaar se Talent Africa Nasionale Kampioenskappe deel te neem. Hulle is ook reeds besig om voor te berei vir nog ‘n internasionale kompetisie wat binne die volgende paar maande plaasvind.



**********************************************************************************************************
