LifestyleNews

Inperking se verhale van vasbyt en voortbeur

Enkelma het veeleisende voltydse werk en help versorg tussendeur haar siek, bejaarde ouers

VEREENIGING. – Die inperking en gebrek aan gereelde sosiale kontak kan ‘n mens maklik laat vaskyk in jou eie frustrasies en laat vergeet van talle ander wie se omstandighede nog moeiliker is. Vaalweekblad hoor byna daagliks van mense wat swaarkry, maar ondanks hul omstandighede voortbeur en berge versit.

Een so ‘n Valie vir wie mens jou hoed kan afhaal, is Marieta Gouws van Drie Riviere, wat in beproewende omstandighede na haar siek, bedlêende ouers omsien terwyl sy as enkelouer van ‘n tienerseun, ook ‘n veeleisende werk het om die pot aan die kook te hou.Vaalweekblad het verlede week van dié ystervrou verneem toe sy op Facebook gevra het of iemand dalk ‘n hospitaalbed het om vir haar te leen.

Haar pa, ‘n voormalige polisieman, se toestand gaan vinnig agteruit en dit raak moeilik om hom in ‘n gewone bed te versorg.

“My ma is verlam gelaat na ‘n beroerte drie jaar gelede. My pa is op 25 Maart gediagnoseer met ‘n baie skaars soort kanker, metastatic neuro-endocrine carsinoma. ‘Metastase’ beteken dit het al versprei – dis nou ook in sy lewer. Ons sukkel geweldig om hom te hanteer met die bed waarin hy en my ma tans saam lê. Hy is baie swak. As hy moet eet, sukkel ons want hy kan skaars regop sit, en verstik maklik. Ek sal enige hulp waardeer,” het sy laat weet.

Hoewel Marieta ‘n baie verantwoordelike werk as kombuisbestuurder by ‘n ouetehuis in Meyerton het, is sy elke dag by haar ouers om seker te maak hulle is versorg. Gedurende die week is sy teen 05:30 in die oggende al op en werk dan heeldag in Meyerton. Na werk help sy ‘n tydelike versorger om na haar ouers in Drie Riviere om te sien en hul sake te hanteer – van geld trek en hul rekeninge en werkers betaal, tot hul inkopies doen en haar ma se volwasse doeke gaan kry. Sodra sulke take afgehandel is, help sy met hul persoonlike versorging en maak kos voordat sy na haar huis gaan om haar eie huishoudelike take te hanteer. Pligte soos om haar en haar seun se eie wasgoed te was en huis skoon te maak, kan saans eers na 22:00 afgehandel word. En more-oggend begin alles van vooraf.

Die familie span tans saam om te help betaal vir ‘n private helper wat haar verlamde ma bystaan. Marieta se suster, Susan van Graan, is net so besorgd oor hul ouers en was die afgelope naweek hier uit Hoopstad om hand by te sit. Hul ouers se langtermynversorging is egter ‘n groot kommer want die mediese fonds het laat weet hulle gaan nie langer die koste van ‘n versorger subsidieer nie. Ander mediese onkoste neem ook kommerwekkend toe. Mense raai Marieta aan om haar pa in ‘n hospies te plaas, maar sy sien nie daarvoor kans nie.

“Ek is so dankbaar dat ek nog my ouers het. Hulle beteken álles vir my en my kind. Ek sal altyd na hulle kyk. My pa kry swaar. Ek wil hom so lank as moontlik by die huis hou. Met die inperking sal ek hom nie in ‘n hospies kan besoek nie. Hy is reeds so deurmekaar. As hy in ‘n plek moet wees waar hy niemand ken nie, weet ek nie,” sê sy bekommerd.

Haar tienerseun, Leighton Gouws, slaap nou snags by haar ouers om hulle te help, of haar te laat weet as iets onvoorsiens gebeur.

Marieta sê hy is ‘n yster en steunpilaar. “Hy maak kos vir Oupa en Ouma as ek vasbrand. Hy gee my pa se swane kos. Hy maak huis skoon. Hy pak Oupa se pille in houers reg vir elke dag, en hy is maar net 14,” sê sy.

Marieta kon nog nie ‘n hospitaalbed vir haar pa vind nie. Enigiemand wat haar op enige manier kan bystaan, kan haar kontak by 084 513 6414 of e-pos by gouwsmarieta@gmail.com.

OPDATERING: Hartseernuus wat ons vroeër vandag (Saterdag 10 Julie) van Marieta af ontvang het, is dat haar pa toe laasnag omstreeks  00:50 oorlede is – op haar 46ste verjaarsdag. “Nou kan hy rus. Hy het baie swaar gekry,” sê ‘n hartseer Marieta. Wyle mnr. Douw van der Merwe was ‘n bekende oud-polisieman in die Vaaldriehoek.

 

Marieta Gouws (staande regs) by haar ouers, mnr. Douw en mev. Annatjie van der Merwe, haar suster Susan van Graan (links) en seun Leighton Gouws heel voor.

********************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button