Oudpersoneellid van hospitaal sterf op 94
Die familie van mev. Ella Goosen moes op 20 Junie afskeid neem van dié interessante vrou

MEYERTON. – Die familie van mev. Ella Goosen moes op 20 Junie afskeid neem van dié interessante vrou, wat op die ouderdom van 94 nog ‘n aktiewe belangstelling in haar mense en die omgewing gehad het.
Oudpersoneel van die destydse Vanderbijlpark-hospitaal sal haar onthou as ‘n toegewyde personeellid in die administratiewe kantore, waar sy sedert die 1960’s vir baie jare gewerk het.
Mev. Goosen is op 2 Maart 1927 in die Ladybrand-distrik gebore en het in Rouxville grootgeword. Nadat sy met Nico Goosen getroud is, het hulle ‘n paar jaar in Namibië gebly en later na die Goudvelde verhuis voordat hulle in die vroeë 60’s ‘n tuiste in Vanderbijlpark gevind het.
Na haar man se dood in 1985, het mev. Goosen tot 2011 in Vanderbijlpark aangebly, waarna sy na Meyerton verhuis het. Sy was ook vir sowat sewe jaar ‘n inwoner van Avondrus-aftreeoord in Vereeniging voordat sy 18 maande gelede by haar dogter, Erna Els, in Meyerton gaan woon het.
Dit is hier waar sy op 20 Junie aan natuurlike oorsake oorlede is.
“Ouma Ella was ‘n streng maar liefdevolle ouma wat baie lief was vir stap en die buitelewe. Sy het graag tuingemaak, gebrei en gelees. Jy kon haar niks van Vanderbijlpark vertel wat sy nie geweet het nie,” sê haar kleindogter, Chamoné Botha.
Wyle mev. Goosen het vyf kinders gehad van wie die jongste seun, Nico, in 2013 in ‘n motorongeluk gesterf het. Sy word oorleef deur twee dogters, twee seuns, 11 kleinkinders en 17 agterkleinkinders.




*************************************************************************************************
