Pastoor Stander, stigter van Lewenskruispaaie, sterf onverwags
Pastoor Henk Stander, een van die stad se bekende geestelike leiers wat ‘n groot rol gespeel het om ‘n tuiste aan talle daklose mense te bied, het op 30 Junie aan natuurlike oorsake gesterf.
VEREENIGING. – Pastoor Henk Stander, een van die stad se bekende geestelike leiers wat ‘n groot rol gespeel het om ‘n tuiste aan talle daklose mense te bied, het op 30 Junie aan natuurlike oorsake gesterf.
Volgens sy skoondogter, mev. Sophia Stander, was hy nog tot ‘n dag voor sy dood aktief betrokke by die bedrywighede van Lewenskruispaaie-sorgsentrum, waarvan hy die stigter was.
Pastoor Stander is in Potchefstroom gebore en was vanaf 1978 tot 1995 leraar van die Volle Evangelie Kerk in Drie Riviere. Hy het ook sedert 1980 tot in die 1990’s die Igtus Christelike Boekwinkels besit. In 1982 het hy saam met sy dogter, pastoor Lynnette Stander, die Lewenskruispad-koffiekroeg in Vereeniging begin om uit te reik na jongmense. Hier kon die jongklomp saamkuier en na die Woord van God luister.
In 1998 het hy die Lewenskruispaaie-sorgsentrum vir hawelose mense as ‘n nie-winsgewende organisasie geregistreer. Honderde behoeftige mense is deur die jare op Lewenskruispaaie se hoewe in Retiefstraat 90, Buyscelia gehuisves en versorg.
Pastoor Stander se seun Christo, het in 2003 by sy pa aangesluit en by Lewenskruispaaie-sorgsentrum betrokke geraak. Tans huisves Lewenskruispaaie 76 mense.
“Baie mense het weer hul voete hier gevind en kon weer aangaan in die lewe,” sê Sophia. “Pastoor Stander sal altyd vir sy omgee en oop hand onthou word. Hy het diep spore in ons harte getrap. Sy afsterwe is nog steeds ‘n groot skok.”
Hy word oorleef deur sy dogters, Lynnette Stander, Yolanda Ellis, skoonseun Willie Ellis, en seun Christo en skoondogter Sophia Stander, by wie hy die afgelope agt jaar in ‘n tuinwoonstel gewoon het. Hy word ook oorleef deur 10 kleinkinders en 10 agterkleinkinders. Sy vrou, Marie, is reeds in 2010 oorlede.
Die familie bedank almal vir hul oproepe en boodskappe met pastoor Stander se afsterwe, sowel as almal vir hul ondersteuning aan Lewenskruispaaie oor die jare.
- Meer inligting oor die werk wat Lewenskruispaaie-sorgsentrum doen en die pad vorentoe, is beskikbaar by Christo (071 422 8961) of Sophia (082 389 0367).

************************************************************************************************************************
