Gert se nuutste idee is ‘n gratis inry ‘county show’ – 17 Julie
SASOLBURG. - As daar nou een besigheidsman in die Vaal is wat die beste van ‘n slegte saak probeer maak en net eenvoudig nie ophou probeer nie, dan is dit Gert Janse van Rensburg (eienaar van The bar with no name).
Sedert die Vlak 4-inperking ingestel is, het Gert op verskeie wyses steeds gesorg dat daar werk vir sy werknemers is.
Om besoekers te lok en steeds hul veiligheid te verseker, het Gert die eerse inry in die parkeerarea van The bar with no name in Vaalpark gehou.
Dit was ‘n groot sukses en daarom is daar ook die volgende naweek weer so gemaak. Die inry was gratis en daar was kelners wat kos en koeldrank en heerlike melkskommels bedien het. Alle Covid-19 reëls is gevolg en besoekers het ‘n faktuur ontvang vir padblokkade doeleindes.
Sy nuutste idee is om Saterdag, 17 Julie ‘n inry Country Show met Lianie May en Ruan Jordaan aan te bied. Die vertoning is gratis en begin 16:00.
Van Gert se ander vindingryke idees sluit in tydelike kantore met gratis Wifi wat teen net R1 per dag gehuur kan word. Innoverend om die minste te sê.
Maar een van die beste idees wat Gert tot dusver gehad het, en sekerlik baie mense na aan die hart lê, is die Memorial Covid19 gate@ The Bar With No Name.
Inwoners wat ‘n geliefde weens Covid-19 aan die dood moes afstaan, kan ‘n slot met hul geliefde se naam daarop aan die hek kom sit. Daar is intussen al heelwat slotte aan die hek.
Dié is net ’n paar van Gert se blink idees sover, ek vermoed ons sal binnekort weer oor Gert en nog gebeure by The bar with no name berig.


