Meyerton se Zandri (12) help ‘n verskil maak
MEYERTON. - Zandri Hudson is nie sommer net nog 'n 12-jarige nie ... dié jong dametjie is 'n talentvolle model en aspirant aktrise met 'n hart van goud.
Zandri is die oudste van drie kinders en ‘n leerling aan die Laerskool Voorwaarts.
Sy is verlede jaar gekies om ‘n 12 maande kursus by Speeltoneel 2020 te doen saam met bekendes soos Germandt Geldenhuis, Desiré Gardner, Je-ani Swiegelaar en Reynardt Hugo. Haar mentor was Germandt.
“Hy is ‘n great mens om mee saam te werk. Ek het soveel geleer in dié tyd,” vertel Zandri. Sy het die kursus in Mei voltooi waarna sy, soos die ander kursusgangers, ‘n toneelstuk gekry het wat by die Etienne Rousseau-teater opgevoer en verfilm sal word, waarna dit ook op KykNET te sien sal wees.
Maar die kersie op die koek is dat Zandri uit ‘n totaal van 800 kinders gekies is om die Speeltoneel Gevoderde Kursus en Kortfilm te doen.
Dit is ‘n vier maande kursus wat deur Izak Davel, Desire Gardner en Vilje Maritz aanbedied word. Dit bied ook die geleentheid om in Desember in ‘n kortfilm te verskyn wat in Parys (Vrystaat) verfilm gaan word.
“Ek sien baie uit na die nuwe kursus. Dit gaan harde werk wees, maar ek is baie bevoorreg,” sê Zandri. Hoewel drama haar passie is (haar ma beskryf haar tong-in-die-kies as ‘n drama queen van geboorte af), geniet Zandri modelwerk net so baie.
Sy is reeds ses maande lid by Vogue Catwalk in Meyerton onder afrigtigting van Charmain Swart. Sy is ook vir die tweede jaar ‘n semi-finalis in die Mej. Vaal skoonheidskompetisie in haar ouderdomsgroep.
Maar by die modelskool leer lede ook oor omgee vir ander. “Ons modelskool gee vir die afgelope sowat 14 maande, elke Vrydag kos aan haweloses.
Daar was eers sowat 20 mense wat gehelp word, maar tans word daar aan meer as 50 mense kos voorsien,” vertel Zandri.
Sy vra as daar enigiemand is wat ‘n bydrae wil maak tot die inisiatief, hulle asb. direk met Charmain sal kontak maak by 082 431 4672. Dit sal opreg waardeer word.
Inwoners kan gerus Zandri se motto volg: “Together we can make a difference”.



