Local newsNews

Midvaal Hoofsweep Rapport: Die verskil tussen munisipaliteite, provinsie en regering se pligte

Elk het hul eie mandaat en verpligtinge wat besonder sterk deur wette en prosedures beheer word

MIDVAAL HOOFSWEEP RAPPORT

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius – DA Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit:

Daar heers redelike verwarring oor wat munisipaliteite se mandaat is en wat die regering of provinsiale regering se werk is. Onlangs vra ‘n nuwe politieke party op Facebook vir mense watter veranderinge hulle in Midvaal sal wil sien tydens die 2021-verkiesing.

Behalwe dat mense nie altyd die volledige berig lees nie of selfs nie die vraag mooi verstaan nie, vind assimilasie ook plaas. Assimilasie is die konsep waar ‘n persoon iets hoor of sien en volgens hulle eie behoeftes, interpretasie en verwysingsraamwerk dit interpreteer om hulle eie betekenis te skep. So sal die vraag op FB wees: Wat se veranderinge sal jy in Midvaal wil sien tydens die 2021-verkiesing?

Iemand wat probleme het met hulle pad sal dit noem en ‘n ander sal dalk die nuwe elektrisiteitstariewe noem. Soos sosiale media maar werk, word dit vinnig ‘n halflees-halfinterpreteer en halfverstaan broeigrond vir klagtes en beledigings oor en weer. Dan “assimileer” persone dalk dat dit Midvaal Munisipaliteit is wat vra wat die gemeenskap in hul wyk gedoen wil hê en na ‘n kriptiese antwoord word Midvaal die volgende dag in die openbaar beledig omdat die nuwe hoofweg nie oornag gebou is nie.

Nieteenstaande die moontlike interpretasies is daar ook persone wat nie besef wat die pligte van ‘n munisipaliteit en die politieke leierskap in die raad is nie. Goedsmoeds word die munisipale personeel en die DA byvoorbeeld dan beskuldig en aangeval. Regering werk op drie vlakke: Munisipaal, Provinsiaal en Parlement. Elk het hul eie mandaat en verpligtinge wat besonder sterk deur wette en prosedures beheer word. Hoewel die een vlak altyd op en/of af na die ander vlakke integreer, is hulle veronderstel om outonoom te funksioneer met die nodige oorsig. So sal munisipaliteite (bv. Midvaal) verantwoordelik wees vir die bou van munisipale paaie, elektrisiteitsnetwerke en waterweë. Met die erfbelasting wat van inwoners ontvang word, moet ‘n werkbare begroting opgestel word en streng nagevolg word om onder andere ook straatligte, riool, sypaadjies, parke, verkeerswetstoepassing, brandweer, bouregulasies en -beheer, begraafplase asook basiese omgewingsbewaring te akkommodeer.

As oorkoepelende distriksmunisipaliteit moet Sedibeng bv. die belange van die plaaslike munisipaliteite binne sy grense op die hart dra. Die sluit in Emfuleni, Midvaal en Lesedi. Die distrik moet dan entiteite soos die lisensiekantore (NIE dieselfde as die verkeerskantore van Midvaal NIE), SASSA en oorgrensdienste soos hooflyne vir krag, water en riool behartig.

Provinsiale regering (bv. Gauteng) moet die begroting wat van die regering ontvang word, afsyfer na die munisipaliteite en is dan ook verantwoordelik vir die hoofweë (bv. R59, R82), provinsiale deurpaaie (bv. Jim Fouchestraat, dele van Johan le Roux-weg en Meyerstrate), behuising (bv. HOP behuising en -eiendomme), hospitale, klinieke en groter staatsinstansies soos plaaslike lughawens, natuurreservate, damme en riviere.

Die regering is verantwoordelik vir die hoofbegrotings aan provinsies en munisipaliteite wat hulle uit verskeie vorme van belasting hef (bv. Jou PAYE, BTW en Brandstofbelasting). Hulle stel die landswette op wat dan enige ander provinsiale of munisipale bywette troef en tree in die belang van die land as geheel op. Skole, Binnelandse Sake (IDs, paspoorte, geboortes en sterftes), Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en howe/magistraatskantore is tipies hulle verantwoordelikheid en kan nie deur die munisipaliteit mee ingemeng word nie.

Hoewel daar toestemming, permitte en planne betrokke is by die bou van ‘n winkelsentrum, apteek, vulstasie, ens. is hierdie totaal en al die besluit van die besigheidspersoon en beleggers van die eiendom of besigheid. Dit is dus nie munisipaliteite se funksie om winkels, winkelsentrums, skole, toetsterreine, hoofweë, provinsiale paaie en -sypaadjies, natuurreservate, damme, riviere, behuising, staatspensioene, lughawens, nasionale brûe, kerke, hospitale, klinieke, howe, polisie, ens. te finansier of te beheer nie.

Trotse Midvaal Groete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

*********************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button