Local newsNewsNews

Klein ‘swartkoppie’ ontaard in groot kankergewas

Dit het begin met ‘n klein kolletjie op sy vel wat soos ‘n swartkoppie gelyk het. Nadat hy dit probeer uitdruk het, het dit net aanhou groei en groei.

MEYERTON. – Die 65-jarige Berhardus “Bennie” Jacobus de Lange van Kookrus se toestand het volgens sy dogter Michelle in ‘n jaar se tyd erg verswak sedert die ontdekking van die kankergewas op sy wang.

Behalwe dat sy voorkoms geskend is, is dit erg pynlik. Die gewas hou net aan met groei.

Vandag is Bennie nie meer in staat om te werk nie en kan nie meer eet nie.

Hy kan volgens Michelle slegs vloeibare voedsel met behulp van ‘n strooitjie inneem.

Volgens Michelle het hulle haar pa onlangs na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto geneem vir behandeling, maar weens die derde vlaag van die Covid-19-pandemie is die hospitaal oorvol met Covid-19-pasiënte en kan daar nie onmiddellik op haar pa geopereer word nie.

Hulle kon ook ‘n afspraak vir Bennie by dr. Stephanus Engelbrecht, ‘n dokter in Meyerton reël.

Bennie ontvang medikasie vir die pyn terwyl hy wag om geopereer te word.

Michelle het verlede week vir Rennie Venter van Helplift Meyerton, Janet Terblanche, Jackie Brits van die Eagle Wings-skuiling en Amanda van Kookrus bedank vir hul hulp en donasies.

Michelle sê enige hulp word verwelkom. “My pa verduur tans erge pyn en sy verbande moet kort-kort omgeruil word.

Hy het ook nie meer ‘n werk nie,” vertel sy. Mense wat wil help kan Michelle by 062 065 0809 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button