Vaalweekblad-joernalis gee Covid ‘n kishou
VANDERBIJLPARK. - Vaalweekblad se gewilde joernalis, Gerda Bruinette, het die afgelope twee weke hard teen Covid-19 geveg. Die goeie nuus is dat sy die virus ‘n kishou gegee het en nou tuis aansterk.
Dit is dus net ‘n kwessie van tyd voordat sy lesers weer met haar unieke skryftalent sal bederf.
Lesers sou dalk die afgelope twee weke gemerk het dat daar nie soveel lekker-lees Gerda-berigte soos altyd gepubliseer is nie.
Gelukkig is sy ook ‘n flukse joernalis wat van haar berigte voor die tyd gedoen het en daar nog selfs verlede week een van haar berigte gepubliseer kon word.
Gerda en albei haar bejaarde ouers het die virus opgedoen. Gerda en haar pa is in onderskeie hospitale opgeneem. Gerda het egter die ergste simptome ondervind en moes in Mediclinic Vereeniging se intensiewe sorgeenheid opgeneem word.
Sy het na twee beproewende weke die stryd gewen. Haar pas se suurstofvlakke moet nog verbeter voordat hy ook ontslaan kan word.
“Fisies voel ek okay, maar emosioneel het die hospitaal en situasie my bietjie bloots ry. Ek kan nie wag om weer te begin skryf nie,” het Gerda laat weet.
Haar kollegas by MooiVaal Media is net so verheug soos haar familie oor haar beterskap.


