News

Drie radio-amateurs se stemme word stil

Vaaldriehoekse radio-amateurklubs het in die afgelope twee weke drie van hul lede aan die dood afgestaan

Vaaldriehoekse radio-amateurklubs het in die afgelope twee weke drie van hul lede aan die dood afgestaan.Die Sasolburg Amateur Radioklub (ZS4SRK) het op 21 Julie die afsterwe van ‘n klublid, mnr. Frans Durand (ZS4FD), aangekondig. Mnr. Durand was sedert 2016 ‘n erelid van die nasionale South African Radio League (SARL) en het volgens mnr. Riaan Greeff, voorsitter van die Sasolburg-radioklub, diep spore as klublid getrap. Mnr. Durand was ook erelid van die Sasolburgse klub.

“Hy was die meesterbrein agter verskeie herhalerprojekte vir professionele en ook amateurradio-herleidings en -herhalers. Hy het onder andere meer as 20 jaar vir die destydse SAUK gewerk. Sy liefde vir mense, sy gelowige karakter en gewilligheid om sy ervarings, kennis en kundigheid met ander te deel, sal nog lank onthou word. Daar was nog soveel om oor te kuier en soveel om te sit en beplan, maar ons is dankbaar vir die kosbare tye saam en dat ons die voorreg gehad het om hom te ken,” sê Riaan.

Nog ‘n lid van die radioklub, mnr. Andries Visagie, wat betrokke is by die Voortrekker-beweging, sê mnr. Durand was ‘n voorbeeld en ‘n mentor. “Oom Frans het Die Voortrekkers ook baie gehelp met ‘CQ Hou Koers’. Ons het onlangs nog gesels oor planne om ‘CQ Hou Koers’ by Vegkop te hou en hy was vuur en vlam. Rus in vrede, oom Frans. My opregte meegevoel,” sê Andries.

Wyle mnr. Durand word oorleef deur sy vrou, Yvonne, kinders en kleinkinders.

* Die Vaaldriehoek Amateurradioklub (ZS6VTB) in Vanderbijlpark het in die afgelope twee weke ook hartseer afskeid geneem van twee van hul lede, mnre. Deon Alberts (ZS4AGP) en Hennie Theron (ZS6JHT).Mnr. Alberts, ‘n jarelange klublid wat in Oranjeville gewoon het, het op 24 Julie gesterf. Hy was 76 jaar oud. Hy word oorleef deur sy vrou, Meisie, en hul kinders.

Mnr. Theron, wat in Mei sy Amateurradio-eksamen suksesvol afgelê het, het op 28 Julie gesterf – ‘n maand voor sy 60ste verjaardag.Hennie het op die Vaalview-hoewes buite Vanderbijlpark grootgeword en het jare lank by ArcelorMittal en Consol Glass gewerk voordat hy sy eie voertuigdiens-onderneming begin het. Buiten radio’s was ringbal ook een van sy geliefkoosde tydverdrywe.Hy word oorleef deur sy vrou, Patricia, seun Hendry Theron, dogter Lidia Viviers, en sy twee susters, Nella de Jager en Annatjie Viljoen.Mnr. Norman Human en mnr. Dirk Opperman, onderskeidelik voorsitter en tesourier van die Vaaldriehoek Amateurradioklub, het die dood van hul radiovriende betreur en sê hul stemme gaan baie gemis word.

Wyle mnr. Frans Durand.
Wyle mnr. Deon Alberts saam met sy vrou, Meisie.
Wyle mnr. Hennie Theron.

 

***************************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button