Substasie-‘tydbom’ naby ouetehuis ontlont
Sakelui en gemeenskap staan saam om verwaarloosde substasie te beveilig
VANDERBIJLPARK. – Siesta Substasie nommer 14 is nou weer nommer een en sterk op die been.Dit volg nadat verskeie rolspelers en sakelui ingespring het met herstelwerk om te voorkom dat die substasie nog ‘n slagoffer van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) se wanbestuur word.
Die projek is reeds in 2018 deur Kobus Janse van Rensburg en Mike Brucher van die Emfuleni Belastingbetalers Vereniging (ERPA) van stapel gestuur en hulle het gesorg dat die regte mense betrek word.
ERPA het die tenderproses, die aanstelling van die kontrakteurs en inspeksie van die opknappingswerk behartig.
In 2018 sou die herstelwerk en opknapping van die substasie R60 000 beloop het, maar ELM het voete gesleep. Die rolspelers met ERPA aan die spits, het lank gestoei om toestemming vir die projek te kry en het op die ou einde self fondse ingesamel om die projek te befonds.
Die substasie wat op Herfsoord se perseel geleë is, is uiteindelik einde Junie 2021 teen ‘n koste van R166 000 opgeknap en sal gereeld geïnspekteer word.
“Daar is 144 substasies in Emfuleni wat opgeknap kon word teen ‘n fraksie van die koste van die miljoene rand se verlies en skade aan substasies wat die afgelope drie jaar weens onbevoegdheid ontplof het,” gee Brucher te kenne.
Die Siesta-substasie was ‘n tikkende tydbom.
“Die lekkende dak het water op die 11 000 volt toerusting tydens reënbuie gestort. Dit is uiters gevaarlik en kon tot ontploffings lei. Die diensboek het aangedui dat daar laas in Februarie 2013 ‘n tegnikus was om lesings te neem.Daar is ook geen diensrekord nie. Hierdie substasie is ‘n sleutelpunt in die kragtoevoer na Johan Heyns Hospitaal, die Herfsoord aftree gemeenskap sowel as omliggende woonbuurte,” sê Janse van Rensburg .
Plaaslike kontrakteurs is gebruik om die substasie se veiligheidstoerusting, transformators, en hoogspanningskakelaars te hersien.
Liezl Viljoen, Bedryfsdirekteur van Safeskill en Nico de Lange, Risikobestuurder van Opulentia het die gevaaridentifikasie-analise behartig.
Volgens Viljoen-hulle is daar tydens die risikobepaling kommerwekkende tekens vir brandgevaar en ontploffing gevind.
MJW Electrical en JT Switchgear was die plaaslike kontrakteurs wat die hoogspanning skakeltuig en transformator herstelwerk behartig het.
Volgens die kontrakteurs was die twee 500kva transformators se olie onder meer heeltemal vervang omdat laboratorium uitslae aangedui het dat ‘n herwinningsproses nie sou werk nie.
Bishop Vincent Jones, UItvoerende hoof van New Horizon Movement, het ook sy waardering vir die opknapping van die substasie uitgespreek. “Wat hierdie maatskappy vermag het, is die spil van New Horizon Movements se veldtogboodskap ‘Citizens take over’. ELM en die politici het herhaaldelik gefaal om dienste te lewer,” se Jones.



