‘n Laaste groet aan Nico Bruinette
Nico Bruinette (72) is nie net nog 'n Covid-19 statistiek nie. Hy was eggenoot, pa, vriend, kollega en broer, en daarom is dit nodig om hom vir oulaas te groet.
VANDERBIJPARK. – Vir sy kollegas was hy Nick, vir sy skoonfamilie was hy Nico. Sy familie het hom geken as Boet of Oom Boet, maar vir my was hy Pa.
Nico Bruinette is op 30 Julie 2021 oorlede aan Covid-19 komplikasies. Hy was 72 jaar oud. Afgetrede moulder, die regte Afrikaanse woord is vormgieter, maar in die 70’s en 80’s het almal geweet wat is ‘n moulder.
Hy het al die jare by DORBYL/VECOR gewerk en het vir amper 49 jaar in dieselfde straat in CW1 gebly.
Pa en sy kollegas het hard gewerk, maar was ook bekend vir die poetse wat hul gebak het. Ek onthou hoe hy altyd vertel het van die ou plantjie wat hulle vir die baas se ontvangsdame as geskenk gegee het.
Sy het die plantjie baie lank vertroetel voordat sy agtergekom het dit was ‘n dagga plant wat hulle êrens op die gronde ontdek het. Op ‘n stadium is VECOR deur SARCO oorgeneem. Hy was van die gelukkiges om sy werk te behou.

Na sy aftrede was hy vir ‘n paar jaar deel van die span wat die tuine by die Vaal Race Course behartig het. Tipies Pa het hy hom ontferm oor die trop blou apies daar en het hy gereeld vrugte vir hul aangedra.
Sagte hart gehad. Lief vir diere. Altyd probeer om die duiwe te red as een van die buurt se katte hulle in die tuin geskraap het.
Hy en ma was amper 52 jaar getroud. Hulle het mekaar van skooldae af geken. Brakpan daardie jare was nie baie groot nie. Sy onthou nog hoe hy altyd pakkies gepak het by Checkers vir sakgeld.
“As jy toe vir my gesê het ek gaan met die vriendelike, oorgewig seun trou, sou ek vir jou gelag het”, vertel ma, ook Gerda, “maar toe gaan hy weermag toe en kom terug as hierdie lang, groot man.” Die koeël was daarna deur die kerk soos hulle sê.
In sy jonger dae het hy gereeld gaan kamp en visvang. Pa was lief daarvoor om by Vaaldam te gaan vang. Hy het menige storm langs daardie dam deurgesit en net weer die lyne ingegooi as die storm bedaar het.

Pa was lief vir mense. Hy kon met almal oor die weg kom. ‘n Terggees wat altyd reg was om ‘n storie te vertel.
In 2019 het ek hom saamgevat Swart Skaap toe. Dis ‘n familie byeenkoms van die Swart familie wat jaarliks voor die Covid-19 inperkings gehou is.
Hy was die een wat die Saterdagoggend gesien het Belicia wat moes lewer gaarmaak, maar ook swanger was op daardie stadium, raak bietjie bleek toe sy die rou lewer aanskou.
Hy het sonder omhaal net by haar oorgeneem, die lewer gesny en gaargemaak. Hy was ‘n goeie kok en kon lekker bak en brou in die kombuis. Sy viskoekies en karp-ribbes was ‘n treffer.
Toe kom Covid-19. Wat sê ‘n mens? Daar is so baie mense wat hom geken het. So baie wat hom gaan mis.
Wat sê ‘n mens vir almal wat nou huil oor hy weg is? Onthou hom. Onthou Nico Bruinette soos wat jy hom geken het. Onthou hom vir wat hy vir jou beteken het.
Al wat ek nog kan sê is, “Ai Pa. Bye Pa.”
