Daar is weer lewe by die ERT
Na meer as twee maande van stilte en donker ligte, gaan daar vanaf 15 Augustus weer lewe by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg wees.
SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau Teater ontwaak uit ‘n winter slaap (as gevolg van Covid-19 inperkings) in Augustus wanneer die ERT Fliek Klub bymekaarkom.
Die immergewilde Out of Africa (1985) met Meryl Streep en Robert Redford in die hoofrolle sal op Sondag, 15 Augustus om 14:00 vertoon word.
Die film is destyds vir 11 Oscar toekennings benoem en het 7 verower, waaronder vir die beste film.
Die storie roer die hartsnare en die tonele uit Afrika is asemrowend. Beslis ‘n weer kyk of ‘n eerste sien werd.
Daar sal streng by die Covid-19 regulasies gehou word en slegs 50 mense sal die vertoning kan bywoon.
Besprekings kan via WhatsApp gedoen word. Stuur ‘n boodskap na 063 2175147.
‘n Week later op Sondag, 22 Augustus 2021 is daar ‘n gratis bespreking deur Hennie de Klerk van Vanderbijlpark oor insekte en hul ekologiese rol.

Die boek, Pollinators, Predators & Parasites. The ecological roles insects in southern Africa deur Clarke Scholtz, Jenny Scholtz en Hennie De Klerk sal ook dan bekendgestel en te koop aangebied word.
Die verrigtinge begin om 15:00. Belangstellendes moet voor 17 Augustus 2021 bespreek deur ‘n WhatsApp te stuur na 082 626 6990.
Die ERT sluit die maand op ‘n klassieke noot af. Die tjellis, Carel Henn gaan ‘n uitvoering gee van JS Bach se Six Suites for unaccompanied cello op Sondag, 29 Augustus om 14:00.

Bespreek deur ‘n WhatsApp te stuur na 063 2175147. Meer inligting is beskikbaar op die teater se Facebookblad, @ERT Sasolburg.
