Local newsNewsNews

Ligte-leesstof: Pruike, koffie en lekker lag

Ligte-leesstof oor pret in 'n haarsalon om pruike weer drabaar te kry.

So paar jaar gelede vat ek die Saterdagoggend koers haarsalon toe. Afspraak is 8 uur.

Dit moet so vroeg wees anders kry ek en Christell nie al ons kuier in nie.

Die hare is ‘n bysaak, dis  die gesels wat saakmaak.

Salon is by haar huis en die kombuis is naby vir kuier om die koffiebekers.

So bereik ons toe darem ‘n stadium waar ons moet wag vir die kleur op my kop om te werk.

Volgende oomblik kom twee meisies die salon ingedwarrel, die ene lewenslustige energie.

Hulle het so pas 5 km gedraf. Die gedagte is vir ons so volksvreemd, ons moes summier nog koffie kry.

Dit blyk toe die een meisie glo nog meer aan verandering as ek, want sy het toe twee pruike wat gered moet word.

Die een bestaan uit lang, rooi regte hare en die ander een is so teerpadswartgrys, maar dis nie regte hare nie.

Die rooie wil-wil krul en die donker een lyk meer na een of ander nes.

Maar Christell sê sy kan dit red en die meisie sê sy kom dit later haal.

Christell toor eers my hare klaar en oor nog ‘n koppie koffie bekyk ons die rooi pruik gedrapeer oor een van die modelkoppe.

“Jy sal moet help en die kop vashou,” besluit sy.

Ek gaan sit voor die spieël met popkop in die hand.

Stellie wapen haarself met borsel en haardroër en die operasie begin.

Op ‘n stadium toe sy die kant toe draai om beter te blaas, sê ek: “Nee man, staan stil, ek kan die kop draai.”

Haar man, Johan, loer om die hoek. “Wat op aarde maak julle?”

“Speel pop, kan jy nie sien nie?” Ek druk perongeluk my vinger in Priscilla (die kop lyk vir my soos ‘n Priscilla) se oog, maar sy trek nie ‘n spier nie.

Christell moet eers stop, ons lag te veel.

Uiteindelik toe blink daai hare soos ‘n sygordyn en die rooi pruik kry sit op ‘n ander modelkop.

Die donker pruik land op Priscilla se kop.

“Ek sal moet sny” sê Christell en drapeer weer een van die swart mantels om my skouers om te keer vir die hare.

Dis toe nou ‘n ding. Daai hare is gekoek.

Met die tweede probeerslag vir uitborsel toe trek die borsel doer en arme Priscilla kry wiplash in my hande.

“Eina” sê ek toe sommer namens die pop.

Ons begin weer lag.

Die sny gaan toe moeiliker, want Priscilla se eie bruin krulhare boender al onder die pruik uit en reguit knip is moeilik.

Maar so is dit ook darem klaar.

En dit lyk mooi.

‘n Rukkie later kom haal die meisie die twee pruike. Sy is tevrede.

Baie beïndruk met onsself kommandeer ons Johan om vir ons nog koffie te maak.

Ons is moeg gelag. Dit was ‘n goeie dag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button