Bonita is geseën met hope energie en kreatiwiteit
Bonita se kreatiwiteit ken nie perke nie. Daar is kort-kort 'n nuwe skepping wat harte steel.
VANDERBIJLPARK. – Stil sit is nie deel van Bonita Janse van Rensburg se spyskaart nie.
“Ek is ‘n huismamma met drie kinders. Die tweeling word 9 en my oudste seun is 11. Hulle hou my goed besig,” vertel sy en mens kan hoor sy is trots op haar kroos.
Tussen die huis werk en die kinders se huiswerk kry sy nog tyd om haar kreatiwiteit en verbeelding vrye teuels te gee in verskeie projekte waarmee sy ekstra geld verdien.

“Ek het altyd verjaardagkoeke en ander koeke gebak, maar toe gee my man my verlede jaar ‘n naaimasjien as verjaardaggeskenk. Aan die begin het ek gesukkel en gereeld oorgedraf na my ma toe vir hulp,” lag Bonita.
Haar ma bly gelukkig in ‘n tuinwoonstel op hul erf, so sy was byderhand om raad uit te deel met die nuwe stokperdjie.
Bonita se eerste suksesvolle projek was die Kersfees Kabouters wat sy aan die einde van 2020 gemaak het.
Die Kabouters met hul lang, spitshoedjies sit enige tafeldoek of servet stewig vas. Hulle staan (of sit dan eerder) amper 1 m hoog en in elkeen se boepmagie is daar ‘n halwe of heel baksteen versteek.
Hulle werk ook goed as deurstoppers.
“Verlede jaar kon ek nie voorbly met al die bestellings nie. Ek het nagte om gewerk. Hierdie jaar gaan ek vroegtydig begin om die Kersfees Kabouters te maak,” sê sy beslis.
Voor die winter het sy oulike pantoffels gemaak met groot ogies en lang hare om voete goed warm te hou.

Met die lente om die draai was dit tyd vir ‘n nuwe projek.
Nadat sy op die internet gesoek het vir ideës, het sy haar eerste Bonnie Baba gemaak.
Hierdie oulike baba-poppe van lap is tussen 30 en 40 cm lank en is ideaal as ‘n geskenk omdat kinders hulle lekker kan vashou as hul slaap.
Bonita gaan ook handgrootte Bonnie Babas maak wat as dankie geskenkies vir gaste by ‘n ooievaarstee kan dien.
Vir meer inligting oor die Bonnie Babas, die Kersfees Kabouters en die ander produkte wat sy maak, besoek gerus haar Facebookblad, Bonnie. Onder die naam staan “sewing and alterations.”
Haar WhatsApp nommer is 060 338 7890.
