Borge vir leerlinge met spesiale behoeftes gevra
Hulp gevra om kinders met spesiale behoeftes te help.
VANDERBIJLPARK. – Ouers van kinders met spesiale behoeftes weet hoe moeilik dit is om ‘n goeie skool of sorgsentrum vir hul kinders te kry.
In Vanderbijlpark en Vereeniging is daar ‘n paar sulke instansies, maar nie een van hierdie skole of sentrums het die kapasiteit om al die kinders te kan help nie.

Die Covid-pandemie het dinge ook nie makliker gemaak nie.
Baie van die privaat instansies vir kinders met spesiale behoefts trek finansieël swaar op die oomblik.
Verder is daar ook heelwat ouers wie se kinders met spesiale behoeftes tans by die huis gehou word omdat die ouers nie skoolfondse kan bekostig nie.
Mirna en Nadya Vermeulen van Chalkboard Champs in Vanderbijlpark sê hulle het nege kinders, waarvan vyf in die Graad R en RR ouderdomsgroep val, wat hulle daagliks leer.
Die ander vier is ouer seuns wat deur Lego Robotics leer hoe om basiese kodering te doen en robotte te bou.
Elkeen van hierdie leerlinge is fisies of verstandelik gestremd of is op die outistiese spektrum, wat beteken dat hulle nie in gewone skole sal kan aanpas nie.

“Ons sentrum probeer om soveel as moontlik kinders te help. Ons glo aan een tot een onderrig en werk met elke kind op sy of haar spesifieke vlak.
“Baie van die ouers is behoeftig en sukkel om die skoolfondse te betaal. Dit beteken ons kan ook nie alles aankoop soos wat ons graag wil nie,” vertel Mirna.
Die sentrum benodig op die stadium onder andere ‘n spesiale klimraam en swaai wat kan deel vorm van die leerlinge se terapeutiese spel.
“Ons wil ook graag nog rekenaars vir die sentrum aankoop waarop die leerlinge lesse op hul vlak kan doen. Ongelukkig laat ons huidige begroting dit nie toe nie,” sê sy.
Dis vir hulle ook hartseer dat daar ouers is wat nie kan bekostig om vir hul kinders met spesiale behoeftes die nodige skoolopleiding te kan gee nie.
Hulle doen daarom ‘n beroep op besighede en individue wat bereid is om kinders met spesiale behoeftes te borg om hulle te kontak.
Die borgskap sal dan skoolfonds, arbeidsterapie en ook deelname aan die Lego Robotics klasse insluit.
Indien ‘n besigheid kan help met die aankoop van die spesiale swaaie, klimrame of rekenaars sal dit ook op prys gestel word.
Kontak gerus vir Mirna by 0723557062 indien jy, jou organisasie of besigheid van hulp kan wees.
Kyk gerus ook die video wat meer inligting bevat oor die sentrum en die werk wat hulle doen.
