40 jaar later en steeds verlief
Vaalweekblad wens die Harleys ‘n baie gelukkige 40ste huweliksherdenking toe.
VAALPARK. – Derick en Santa Harley vier op 22 Augustus hul 40ste huweliksherdenking.
Die egpaar van Vaalpark hou tans vakansie in Uvongo en sê hulle gaan die groot dag vier deur te gaan uiteet.
Die Harleys is op 22 Augustus 1981 getroud na ‘n blitsromanse. Dit was voorwaar love at first sight soos die Engelse romanskrywers altyd vertel.

“Ons het op daardie stadium by Komatipoort Kragstasie gebly en Derick het daar gewerk. My pa het kupido gespeel en ons aan mekaar voorgestel,” lag Santa.
“Ons het die November ontmoet en daardie Januarie is ek opgeroep vir drie maande grensdiens. Toe ek terugkom het ons bykans dadelik verloof geraak en is in Augustus getroud,” brei Derick uit.
Die egpaar het nog ‘n verdere drie jaar in Mpumalanga gebly alvorens hulle in 1985 Vaalpark toe getrek het.
“Sedertdien bly ons steeds hier en nog al die pad in dieselfde huis”, vertel Santa.
Saam het hulle drie dogters grootgemaak, Johlia (Derick se dogter uit ‘n vorige verhouding), Leandri en Dellevon.
Hulle het ook nou al vyf kleinkinders (drie seuns en twee kleindogters) met die sesde een (nog ‘n seuntjie) op pad in Desember.
Santa reken die geheim van ‘n suksesvolle huwelik is om wedersydse respek te handhaaf en altyd verlief te bly.
Derick stem saam en voeg by dat mense nie jaloers op mekaar moet wees nie.
Hy sê: “Moenie mekaar dooddruk nie. Gee jou eggenoot ruimte om sy of haar eie ding ook te kan doen.”
So is Derick ‘n provinsiale snoeker speler en ry hy ook graag motorfiets.
Santa aan die anderkant sal so af en toe saam met Derick ry, maar sy wil nie haar eie motorfiets hê nie.
Sy geniet dit om eerder tyd saam met hul dogters te spandeer.
“Ons het selfs toe die kinders nog in die huis was, tyd gemaak vir mekaar. Te veel egpare raak so besig met hul kinders se lewens dat hul nie meer met mekaar kommunikeer nie.
“Kommunikasie was nog altyd vir ons belangrik en daarom het ons elke dag as Derick van die werk gekom het, eers rustig koffie saam gedrink en met mekaar gesels,” gee Santa raad.
Vaalweekblad wens die Harleys ‘n baie gelukkige 40ste huweliksherdenking toe.
