Vanderbijlpark/Vereeniging DBV-inspekteurs tot die redding
Die plaaslike Diere Beskermings Vereniging (DBV) het die afgelope weke weer besondere werk verrig en tot die redding van verskeie diere in nood gekom.

Onder die reddingspogings tel twee skilpaaie wat uit die aanhouding van ‘n sangoma (toordokter) in Sebokeng gered is. Die SAPD en SANDF het bystand gegee om dit te vermag. Albei die skilpaaie is daarna by die DBV versorg voordat hulle na ‘n rehabilitasie sentrum oorgeplaas sal word.

Dan was daar die arme kat wat sy weg tot hoog op ‘n telefoonpaal in Vanderbijlpark gevind het en toe nie weer kon afkom nie. Gelukkig vir die kat wat reeds sedert die vorige aand daar vasgekeer was, het die DBV-inspekteurs nie hoogtevrees nie en het hulle vinnig daarin geslaag om hom weer veilig na benede te bring.

Dan was daar ook ‘n wollerige babakat wat in lemmetjiesdraad verstrengel geraak het. Die inspekteurs moes die drade knip om die katjie te bevry.

Daar was ook ‘n beseerde uil in Risiville wat in gevaar was. Die inspekteurs het die pragtige geveerde vriendjie gered en na ‘n plaaslike veearts geneem vir behandeling. Die inspekteurs was vol vertroue dat die uil ten volle sal herstel en uiteindelik weer in die wild vrygelaat sal kan word.





