Dooie slang in veld toe ‘n Burmese-luislang
SASOLBURG. - Plaaslike nooddienswerker en gekwalifiseerde slangkenner en hanteerder, Nick van der Walt van Netcare 911 (Vaalpark Operations), het bevestig dat die reuse dooie slang wat na 'n veldbrand gevind is, ‘n Burmese Python (luislang) is.
Vaalweekblad het verlede Donderdag berig oor die reuse vonds (luislang) deur brandbestryders na hulle geswoeg en gesweet het om ‘n veldbrand te blus.
Die veldbrand het tussen 12:00 en 13:00 op die plaas Brakkuil ontstaan. Na die vuur geblus is, is die reuse-slang langs die Wolwehoek-grondpad, wat aan die wildskamp grens, gevind.

Daar was eers gedink dat die slang ‘n African Rock Python (luislang) was, maar plaaslike slangkenner Nick het verduidelik dat die velpatroon bevestig dat dit ‘n Burmese Python (luislang) is.



Die afleiding kan ook gemaak word dat dié reuse luislang van bykans 4 meter, waarskynlik iemand se troeteldier was wat in die veld vrygelaat is weens een of ander rede, of dat die slang ontsnap het vanwaar hy aangehou was.
Burmese-luislange is op die indringerlys in Suid-Afrika wat beteken dat die slang nie eie is aan Suid-Afrika nie en dat mense wat die slange wil aahou permitte moet hê.
“Mense doen nie die moeite om aansoek te doen vir permitte nie en laat hulle vry as natuurbewaring op hulle spoor is,” verduidelik Nick. “Mense moet ook die nodige kennis hê om na slange om te sien.
Burmese-luislange kry maklik longonsteking as die temperatuur onder 23 grade daal en dan sterf hulle”.
Omdat die slang dus nie in die winter in die veld sou kon oorleef nie, vermoed Nick dat die slang moontlik in aanhouding kon doogegaan het en toe daar gestort is, of dat die slang slegs ‘n dae voor die vuur uitgebreek het daar vrygelaat is.
Dit sal waarskynlik altyd ‘n raaisel bly, maar wat almal eens is, is dat dit tragies is indien die slang tydens die veldbrand gesterf het.
* Vaalweekblad bedank plaaslike inwoner Suzanne van Dyk wat nie net op die dag dag gehelp het om die vuur te blus nie, maar ook vir Vaalweekblad gekontak het met die nuus oor die tamaai vonds. Sy het selfs later spesiaal terug gegaan om die slang te meet. Die luislang is net kort van 4m (3,75 m).

