Verkiesingsplakkate moet binne 14 dae af
Politieke partye kan die verwyderingskoste moet dra indien Emfuleni agtergeblewe plakkate moet opruim.
VEREENIGING – Politieke partye se verkiesingsplakkate mag volgens Emfuleni se gepubliseerde advertensiebeleid nie langer as 14 dae ná die verkiesing bly hang nie.
Die beleid bepaal dat plakkate wat op ’n parlementêre of munisipale verkiesing betrekking het, slegs tot die einde van die veertiende dag ná die verkiesing vertoon mag word.
Dit maak ook voorsiening dat die munisipaliteit plakkate wat nie binne die voorgeskrewe tyd verwyder is nie, self kan verwyder en die verwyderingskoste kan verhaal.
Die opruiming behels meer as net die plakkate: die beleid se algemene voorwaardes vereis ook dat die rugborde en tou waarmee dit vasgemaak is, verwyder word.
