DA eis herstel van Gauteng se luggehaltemonitors
Volgens die DA maak foutiewe luggehaltemonitors dit moeilik om vas te stel waar die stank in dele van Gauteng vandaan kom.
GAUTENG – Die DA eis dat die provinsiale regering toesien dat luggehaltemonitors behoorlik werk terwyl inwoners in verskeie dele van die provinsie oor onaangename reuke kla.
Volgens Leanne de Jager, die party se Gautengse woordvoerder oor omgewingsake, stuur verskeie meetstasies in Johannesburg nie data deur nie. Sonder dié inligting is dit moeilik om besoedelingsbronne op te spoor en vas te stel hoeveel besoedeling inwoners inasem.
Die kwessie het weer aandag gekry nadat inwoners van Blairgowrie die afgelope naweek by die party oor ’n vrot-eierreuk en monitors wat nie werk nie, aangeklop het.
De Jager eis dat die Gautengse LUR vir omgewingsake, Ewan Botha, ingryp. Die DA gaan ook vrae oor die moniteringsnetwerk in die provinsiale wetgewer indien.
Die party verwys na verhoogde waterstofsulfiedlesings (H₂S) by ’n meetstasie by Springs Girls’ High School. Volgens die verklaring het die gemiddelde lesing vir een uur daar tot 28,22 dele per miljard gestyg.
Waterstofsulfied word gewoonlik met ’n vrot-eierreuk verbind. Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het in Maart gesê dié gas was waarskynlik verantwoordelik vir wydverspreide swaelagtige reuke in Gauteng.
Die Vaaldriehoek het ook vroeër onder ’n geheimsinnige “katpiepiereuk” deurgeloop, waaroor Vaalweekblad sedert Desember 2025 berig het. Sedibeng-distriksmunisipaliteit het in Februarie bevestig dat dié klagtes op nasionale vlak ondersoek word.
’n Verband tussen daardie reuk en die jongste klagtes is egter nie bevestig nie. Die DA se verklaring bevestig ook nie dat meetstasies in die Vaaldriehoek foutief is nie.
Die Springs-lesings bewys nie waar die gas vandaan kom nie. Dat ’n mens dit kan ruik, beteken ook nie noodwendig dat dit skadelik vir jou gesondheid is nie.