Local newsNews
Bekende karwag Willem herstel slaggate uit vlooimark-fondse
“Ek was 18 jaar oud toe ek ‘n karwag geword het nadat die Here my siel hier onder ‘n boom gered het," sê Willem.
Mnr. Willem Herbst (41), ‘n bekende karwag van Sasolburg, bied op Saterdag, 4 September weer ‘n vlooimark in Sasolburg Mall se parkeerterrein aan.
Dit is in John Vorsterstraat agter Mardo Foto’s.
Enigiemand is welkom om ‘n stalletjie te beman en hul ware te kom uitstal. Daar is geen koste aan verbonde nie, maar stalletjiehouers word versoek om ‘n klein donasie te gee, wat deur Willem gebruik sal word om teer en ander materiaal te koop om slaggate in sy gebied te herstel.
Willem is reeds die afgelope 23 jaar ‘n karwag in die omgewing en het reeds naam gemaak met sy projekte om slaggate in die middedorp se paaie te herstel.
Vaalweekblad en Ster het al dikwels berig oor dié karwag, wat op eie inisiatief sakeondernemings in die omgewing nader vir skenking van materiaal, en ook ‘n deel van sy eie inkomste uit fooitjies gebruik om teer te koop vir sy herstelwerk.
Willem, wat nog ongetroud is, werk bedags met trots op “sy” parkeerterrein. Hy sien ook om na sy bejaarde ma nadat sy pa so drie jaar gelede oorlede is.
“Ek was 18 jaar oud toe ek ‘n karwag geword het nadat die Here my siel hier onder ‘n boom gered het. Ek is nou al 23 jaar hier en die Here het my van ‘n kleiner parkeerterrein na ‘n groter een gevat,” sê hy met groot dankbaarheid.
Meer besonderhede oor die vlooimark is beskikbaar by Willem by 076 572 3093.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
