BusinessNews

Legendariese Uncle Peter laat vele sakemonumente in Vaal agter

Vandag staan talle indrukwekkende sakegeboue in die Vaaldriehoek as monumente van die Papavarnavas-groep, waarvan Uncle Peter die kleurryke patriarg was.

VANDERBIJLPARK. – Die afsterwe van mnr. Peter Papavarnavas (94) op 7 September laat nie net ‘n groot leemte in sy familie en vriende se lewens nie. Dit is ook die afsluiting van ‘n hoofstuk in die Vaaldriehoek en Parys se ekonomiese geskiedenis, waarin dié man ‘n fenomenale rol gespeel het.

Mnr. Panayiotis Sofocli Papavarnavas, of sommer Uncle Peter vir sy sakevriende, is op 10 Januarie 1927 gebore. Dit was van jongs-af duidelik dat hy ‘n kop vir sake gehad het.

Vandag staan talle indrukwekkende sakegeboue in die Vaaldriehoek as monumente van die Papavarnavas-groep, waarvan Uncle Peter die kleurryke patriarg was. Verskeie lede van sy uitgebreide familie is vandag ook gerekende sakemense regdeur die Vaaldriehoek en Parys.

Hoewel Parys sy tuisdorp was, onthou bankamptenare van Vanderbijlpark wat dekades lank dienste aan hom gelewer het, hom as ‘n ware “gentleman”, maar ook as iemand wat ondanks sy suksesse altyd plat op die aarde gebly het.

Ook mnr. Christo de Jager, voormalige direkteur: Ekonomiese Ontwikkeling van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en deesdae betrokke by ‘n private eiendomsontwikkelingsaak, Paceplan, sê hy kan net met lof van Uncle Peter praat. De Jager het die voorreg gehad om hom te ontmoet tydens die aanvanklike beplanning van die ontwikkelings langs die R59-snelweg in Sasolburg.

“Ek moes ‘n paar keer saamry Bloemfontein toe, onder meer om met die Vrystaatse paaiedepartement te gaan praat. Sy skerpheid van denke het my opgeval, en ook met hoeveel respek hy deur personeel van dié departement behandel is. Hoewel hy nooit aanstellerig was nie, het hy ‘n aura uitgestraal wat mense geïnspireer het om die ekstra myl vir hom te stap.

“Daar was nooit ‘n dull moment saam met Uncle Peter nie. Hy was so humoristies dat ek heelpad Bloem toe en terug vir sy kwinkslae gelag het. Hy het altyd ‘n chauffeur gehad wat sy swart Mercedes bestuur het, maar wanneer hy haastig geraak het, het hy nie geskroom om die chauffeur te stop en self verder te ry nie… natuurlik bietjie vinniger as die spoedgrens,” onthou De Jager met ‘n glimlag.

Dit is veral in Parys waar Uncle Peter se nalatenskap nog lank onthou en gekoester sal word. Hy was die eerste eienaar van die Pick n Pay-franchise in Parys, wat hy later verkoop het.

Die Clicks-gebou langs die museum het in 2002 danksy sy onderhandelinge en inisiatief tot stand gekom. Dit is deur verskeie ander ontwikkelings gevolg, soos die uitbreiding van die Pick n Pay-sentrum in 2008 en die Parys Boulevard Centre in Buitenstraat in 2013.

Uncle Peter was vir baie jare lid van die Parys Rotary Klub en het die leuse van “Service above self” op verskeie maniere uitgeleef. Hy het ‘n oop hand gehad waar dit by hulp aan minderbevoorregtes gekom het en was onder andere ‘n finansiële ondersteuner van Community Care, ‘n organisasie bestaande uit professionele mense wat in hul vrye tyd gratis mediese dienste aan behoeftige gemeenskappe lewer.

Sy naaste familie en vriende het Saterdag, 11 September, hul laaste eer aan hom betuig by sy begrafnisdiens, wat ook op You Tube uitgesaai is.

***************************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button