Home & GardenLifestyleNews

‘Ons dorp kan weer mooi lyk as elkeen sy deel doen’

As elkeen net hulle deel doen deur voor en rondom hul eie erwe skoon en netjies te hou, sal dit reeds ‘n goeie begin wees om ons dorp weer skoon te kry

 

Cobus Cato van Vanderbijlpark skryf:

Daar word so baie gepraat van hoe ons dorp verval het. Hier praat ek nie net van die gebrekkige dienslewering van die munisipaliteit nie, ek praat van hoe inwoners van hierdie eens pragtige dorp willens en wetens daartoe bydra dat ons dorp in ‘n ashoop verander.

Ry maar deur die strate van die dorp en jy sal opmerk dat daar oral vullissakke is wat iewers op ‘n straathoek of sypaadjie staan. Hier praat ek nie eens van die inwoners wat hulle sakke buite plaas vir die vullistrok om op te laai nie.

Dan kom die vraag op: “Wie se sakke is dit? Hoe het dit daar gekom?” Die antwoord is voor die hand liggend, dis daar geplaas deur ‘n inwoner. Of die inwoner nou van die bepaalde woongebied is of nie, is nie ter sprake nie, iemand het dit in die verbygaan, in die donker van die vroeë oggend-ure, daar neergesit, want hulle wil dit nie voor hulle eie erf hê nie.

“Herwinnaars”, soos die vullissakgrouers deesdae genoem word, sal dit oopmaak en dan is die gemors voor hulle erf. Diegene sal eerder toesien dat iemand anders se erf, in ‘n ander uitbreiding, bemors word. Dit is vir seker ‘n onaanvaarbare gebruik wat mens nie van jou mede-inwoners verwag nie. Daar is ‘n manier om hierdie gebruik stop te sit as ons werklik ‘n poging wil aanwend om ons dorp te probeer skoon hou. Rapporteer sulke onwettige voorvalle aan die owerheid. Daar is bywette wat hierdie praktyk verbied en mense wat hulle skuldig maak aan sulke aktiwiteite, behoort vervolg te word en ‘n boete opgelê te word.

Sodoende sal twee dinge moontlik gebeur, (1) ons dorp sal effens skoner voorkom, (2) die munisipaliteit se inkomste uit daardie boetes kan vergroot, en onder die regte beheer kan dit positief in ons dorp aangewend word

Die munisipale bywet rakende vullisverwydering is ook baie duidelik, naamlik dat inwoners hul vullissakke slegs mag uitsit op die dae wat die vullistrok in die woongebied ry. Op ander dae moet die sak binne die erf gehou word om juis te verhoed dat “herwinnaars” die sakke skeur.

Die argument sal uiteraard ontstaan dat die vullistrok nie op geskeduleerde tye ry nie, of dat inwoners nie betyds kennis kry van die dae wat die trok moet ry nie. In sommige gevalle is dit wel waar, maar as ‘n reël volg die munisipaliteit die afgelope tyd ‘n tweeweeklikse skedule, afhangend van voertuigbeskikbaarheid. Ons as inwoners is bewus van die skedule en behoort dit dan ook te eerbiedig.

As elkeen net hulle deel doen deur voor en rondom hul eie erwe skoon en netjies te hou, sal dit reeds ‘n goeie begin wees om ons dorp weer skoon te kry.

 

 

**************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button