VF Plus dien strafregtelike klag teen minister van water en sanitasie in oor Vaalrivier-besoedeling
Die VF Plus het verlede week ʼn strafregtelike klag by die Vanderbijlpark-polisiekantoor ingedien teen die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, weens die oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewingsbestuurswet.
Die klag volg op die besoedeling van die Vaalrivier deur riool wat vanuit stukkende pompstasies die rivier binnestroom.
Volgens die VF Plus se Gerda Senekal is een van die grootste pompstasies, die Rietspruit-rioolsuiweringsaanleg reeds twee jaar buite werking terwyl die Sebokeng-rioolsuiweringsaanleg nie die volume onverwerkte riool kan hanteer nie.
“Tans vloei 150 megaliter onverwerkte riool daagliks die rivier binne wat nie net ʼn bedreiging vir mens en dier inhou nie, maar die ekosisteem ernstig benadeel,” sê Senekal.
Drie gevalle van bilharzia is onlangs by die Sebokeng-hospitaal behandel.
Die vermoede bestaan dat pasiënte van die besoedelde water gedrink het.
Die departement van water en sanitasie het op 2 Februarie vanjaar die beheer van Emfuleni se rioolsuiweringaanlegte oorgeneem en is ook verantwoordelik vir die opknapping van die pompstasies om al die rioolstortings in die Vaalrivier en elders stop te sit.
“Die departement het voor die oorname beloof om R1,2 miljard te bestee om die stukkende pompstasies te herstel. Sedertdien is R50 miljoen aangewend vir die herstel van die Rivier-pompstasie by die Emerald Casino, die Turbo-industriëlepark-pompstasie langs die R42 en die pompstasie oorkant die Riviera-hotel.
“Intussen word septiese tenkwaens gebruik om onverwerkte riool vanaf Emfuleni na die Vaalrivier te vervoer waarna riool in die rivier gepomp word.
“Die verval van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit kan nie langer geduld word nie en van die beloftes van minister Mchunu se regrukprogram het weinig gerealiseer,” meen Senekal.
Volgens Senekal bepaal artikel 24 van die Grondwet dat elkeen die reg het op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie.
“Tans is dit nie die geval nie en word inwoners se gesondheid benadeel deur wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid. “Inwoners van Emfuleni het op 1 November die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan teen die ANC om die totale verval van Emfuleni te voorkom,” sê Senekal.

